Publication: Volksblad Issued: Date: 2004-11-02 Reporter: JanJan Joubert

Zuma in Parlement Gevra oor Wapenman

 

Publication 

Volksblad

Date 2004-11-02

Reporter

Jan-Jan Joubert

Web Link

www.news24.com

 

Kaapstad - Die skaduwee van die Schabir Shaik-verhoor agtervolg adj.pres. Jacob Zuma môre tot in die parlement, wanneer vrae voortspruitend uit die verhoor aan hom gestel word.

Shaik is Zuma se finansiële raadgewer en staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Me. Raenette Taljaard, DA-LP wat haar in die regering se omstrede wapentransaksie verdiep het, het 'n vraag ingedien wat twee vroeëre parlementêre stellings van Zuma bevraagteken. Die eerste deel van haar vraag is of hy sy antwoord van 13 Maart verlede jaar oor ontmoetings met die wapenhandelaar mnr. Alain Thétard sal heroorweeg. Indien nie, vra sy redes daarvoor en indien wel, wanneer hy Thétard ontmoet het en wat hulle bespreek het.

Dié deel van Taljaard se vraag verwys na 'n taamlik omstrede antwoord van Zuma nadat sy by hom wou weet of hy Thétard op 11 Maart 2000 of enige ander "gespesifiseerde" datums ontmoet het.

Zuma het geantwoord dat hy Thétard nie op 11 Maart 2000 ontmoet het nie en dat hy soveel mense ontmoet het in die tyd toe hy LUR vir ekonomiese sake in KwaZulu-Natal was dat hy nie almal kan onthou nie, maar dat Thétard moontlik deel van afvaardigings van die wapenhandelaar Thomson-CSF kon wees.

Dit is sedertdien as gemene saak tussen die staat en Shaik se regspan in die Durbanse verhoor geopper dat 'n ontmoeting waar sowel Shaik en Zuma as Thétard teenwoordig was, op 10 Maart - dus 'n dag vroeër as Taljaard se navraag - in Durban plaasgevind het.

Die tweede deel van die vraag wat Taljaard môre stel, is potensieel skadeliker.

Sy vra aan Zuma of hy, in die lig van die KPMG-verslag wat in die Shaik-verhoor voorgelê is, hou by sy stelling aan die parlementêre etiekkomitee dat die betalings wat hy van Shaik ontvang het, rentedraende lenings was. Indien nie, word hy gevra hoekom nie en indien wel, wat die korrekte besonderhede oor dié betalings is.

Die parlement en die presidensie het tot dusver 'n eng toepassing van die sub judice-reël gebruik om enige bespreking voortspruitend uit 'n hofgeding te verhinder.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en die Volksblad.