Hy Weet Nie Hy is Hoë in Nkobi-Groep |
Publication | Beeld |
Date | 2004-12-07 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban. - 'n Vakbondleier het Dinsdag in die Shaik-verhoor getuig sy gesig het in die Nkobi-groep se brosjure verskyn sonder dat hy geweet het hy is 'n direkteur van die groep.
Mnr. Jabu Ngcobo, voorsitter van die Workers' College in KwaZulu-Natal, het Dinsdag gesê hy was bewus van sprake dat iemand van dié organisasie 'n direkteur van mnr. Schabir Shaik se Nkobi Holdings sou word, maar het eers "in die koerante gesien" dat dit hý is.
Shaik, adj.pres. Jacob Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
Die hof het Dinsdag gehoor hoe mnr. Yunus Shaik, Shaik se broer en voormalige direkteur van die Workers' College, oorspronklik met die idee vorendag gekom het dat die kollege 'n aandeelhouer van Nkobi Holdings word.
Ngcobo het Dinsdag getuig hulle het gesukkel om geld te kry en het die aanbod van 10%-aandeelhouding - as deel van wyer swart ekonomiese bemagtiging (SEB) - aanvaar.
Ngcobo het nie geweet hy was 'n direkteur van Nkobi Holdings nie.
Volgens dié maatskappy se rekords was Ngcobo tot in Augustus 1998 'n direkteur.
Sy gesig het ook in dié groep se brosjure verskyn en hy word gesien op 'n foto saam met die groep se ander direkteurs en bestuurders.
Ngcobo het Dinsdag getuig hy was onbewus van sy "status" totdat mediaberigte oor die regering se wapentransaksie in 2000 verskyn het.
"Ek is na Nkobi se kantore omdat Yunus (Shaik) my aan die mense daar wou voorstel. Ek onthou 'n foto is geneem, maar ek was onder die indruk dit was om te wys die Workers' College is deel van Nkobi Holdings se aansoek vir die rybewys-kontrak," het Ngcobo getuig.
Shaik se Nkobi-groep is die SEB-vennoot van Prodiba, wat kaartrybewyse vir die departement van vervoer vervaardig.
Volgens Ngcobo is hy nooit ingelig oor raadsvergaderings of vergaderings vir aandeelhouers nie.
"Ek dra geen kennis van enige vergaderings nie. Ek het nie geweet ek was 'n direkteur nie. Ek het nooit enige dokumente geteken nie," het Ngcobo getuig.
Ná die berigte in 2000 wat die Workers' College betrek het by die wapentransaksie waarby Shaik baat gevind het, is 'n vergadering glo gehou "om die skade te verminder".
'n Brief is aan Nkobi se ouditeurs geskryf om te vra wat die status van die kollege se aandeelhouding is.
Mnr. Reeves Parsee, Nkobi en Shaik se prokureur, het teruggeskryf dat die Workers' College ongeveer R101 miljoen aan Nkobi Holdings moet betaal om 'n aandeelhouer te bly "omdat ons geen finansiële bydrae tot die maatskappy lewer nie".
Volgens mnr. Kessie Moodley, huidige direkteur van die kollege, het hulle besluit om eerder die aandele, wat ontvang is "om Nkobi Holdings se SEB-hand te versterk", terug te gee.
Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.