'Shaik-Boeke Wys Geen Wentelkrediet aan Zuma' |
Publication | Beeld |
Date | 2004-10-29 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban. - Geen stawing kon in die boeke van mnr. Schabir Shaik se maatskappye óf sy persoonlike finansiële dokumente wat aan banke voorgelê is, gevind word dat dié sakeman wentelkrediet van R2 miljoen aan adj.pres. Jacob Zuma toegestaan het nie.
Só het mnr. Johan van der Walt Vrydag in die Durbanse hooggeregshof getuig in Shaik se korrupsieverhoor.
Die staat beweer Shaik het Zuma effektief bindgeld ('n retainer) betaal toe hy en sy Nkobi-groep tussen 1995 en 2002 glo altesame R1,2 miljoen aan of ten bate van die politikus betaal het.
Shaik, wat skuld ontken, het in sy pleitverduideliking gesê die geld wat ten bate van Zuma betaal is, was lenings. Luidens die pleitverduideliking het Zuma aanvanklik daarop aangedring dat skuldnotas opgestel word. Dit is later vervang met 'n ooreenkoms dat Shaik R2 miljoen se wentelkrediet toestaan.
Die verdediging erken dat daar uit die R1,2 miljoen sowat R816 000 ten bate van Zuma betaal is en sowat R268 000 aan die ANC.
Sekere aspekte van die betalings van R68 000 word deur die verdediging erken, terwyl Shaik nie in 'n posisie is om erkennings óf ontkennings te doen oor betalings van sowat R67 000 nie.
Van der Walt het getuig Zuma het ook voordeel getrek uit die R268 000 wat volgens Shaik ten bate van die ANC betaal is.
Hy het bygevoeg die betalings van sowat R434 000 (wat in geskil of deels in geskil is) word gestaaf deur dokumente waarop die Skerpioene beslag gelê het of wat mnr. Colin Isaacs, die Nkobi-groep se hoof-rekeningkundige beampte, self aan die owerhede geopenbaar het.
Daar was geen wentelkredietooreenkoms met Zuma onder die dokumente waarop die Skerpioene beslag gelê het nie, het Van der Walt getuig.
Selfs al bestaan daar só 'n ooreenkoms sou hy verwag dat lenings aan Zuma in die Nkobi-boeke aangeteken sou wees, aangesien dit rekords is wat deur die wet vereis word.
Die meeste van die betalings ten bate van Zuma is volgens Van der Walt uit die bankrekening van Kobitech, een van die Nkobi-maatskappye, gedoen. Daar was geen direkte verwysing na lenings aan Zuma in die Nkobi-boeke nie, het Van der Walt gesê.
Betalings ten bate van Zuma is onder meer as maatskappy-uitgawes, huur, donasies, reisonkoste of selfs as BTW aangeteken.
KMPG moes 'n omslagtige rekonstruksie van Nkobi se boeke doen om vas te stel hoeveel ten bate van Zuma betaal is.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en die Beeld.