'Wesenlike Onregmatigheid' Moes Aangemeld Gewees het, Hoor Hof |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-10-27 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - Die Nkobi-groep van mnr. Schabir Shaik het die afskryf van R1,2 miljoen as "ontwikkelingskoste" vir sy kaartrybewys-kontrak gedeeltelik reggestel en eers nadat die Skerpioene dié maatskappyegroep se ouditeurs oor beweerde bedrog ondervra het.
Só 'n "wesenlike onregmatigheid" moes na sy mening by die Openbare Rekenmeesters- en Ouditeursraad (Oror) aangemeld gewees het en kan nie reggestel word deur slegs die bedrae terug te skryf nie, het mnr. Johan van der Walt van KMPG gister getuig.
Shaik en tien van sy maatskappye staan tereg op 'n aanklag van bedrog in verband met die afskryf van R1,2 miljoen op die boeke van Kobifin in die boekjaar 1998-'99 teen "ontwikkelingskoste" vir die kaartrybewysprojek, Prodiba.
Die alternatiewe aanklagte is onder meer ingevolge die Inkomstebelastingwet en die Maatskappyewet oor vals boekhouding.
Van der Walt het gister getuig die R1,2 miljoen uit die leningsrekenings van Shaik, Floryn Investments en Clegton Investment het sowat R290 000 van adj.pres. Jacob Zuma se skuld aan die groep ingesluit.
Van der Walt het getuig KPMG het met 'n rekonstruksie van die Nkobi-boeke gevind dat die groep in die finansiële state vir 1999 en 2000 as likied voorgestel is, terwyl hy inderdaad tegnies insolvent was.
In 1999 en 2000 is 'n solvente posisie van onderskeidelik sowat R4,6 miljoen en R10,3 miljoen in die state aangedui terwyl die groep se laste sy bates in der waarheid met onderskeidelik R1,8 miljoen en R1,6 miljoen oorskry het, het Van der Walt gesê.
Dié wanvoorstelling is, volgens hom, hoofsaaklik gedoen deur die afskrywe van die R1,2 miljoen, die verkeerdelike skepping van 'n R3,5 miljoen-bate ten opsigte van toekomstige inkomste uit Prodiba in 1999 en die ongegronde verhoging in die waarde van Nkobi se Prodiba-aandeel met R3 miljoen in 1999 en 'n verdere R5 miljoen in 2000.
Van der Walt het 'n somber prentjie van Nkobi se boekhouding geskets waar van die maatskappye se boeke in sommige gevalle nie behoorlik afgesluit is nie. In ander gevalle was die balans in die boeke teen die jaareinde nie dieselfde as aan die begin van die nuwe boekjaar nie.
Dit is, volgens Van der Walt, egter duidelik dat daar noue samewerking was tussen die ouditeurs en Nkobi se direkteurs - veral Shaik.
Sowat R960 000 van die R1,2 miljoen wat in 1999 se finansiële state afgeskryf is, is later teruggeskryf met 'n nota dat dit 'n "fundamentele fout" was, het die hof gehoor.
Volgens Van der Walt is dié terugskrywing na 28 Februarie 2002 teruggedateer nadat die Skerpioene Nkobi se ouditeurs in Oktober 2003 ondervra en die beweerde bedrog opgehaal is.
Met erkenning aan Dries Liebenberg en Die Burger.