Publication: Beeld Issued: Date: 2004-11-30 Reporter: Adriaan Basson Reporter: JanJan Joubert

Woods Getuig oor Zuma, Brief

 

Publication 

Beeld

Date 2004-11-30

Reporter

Adriaan Basson, Jan-Jan Joubert

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Sarkasties, vyandig en 'n valse argument.

Só het dr. Gavin Woods, IVP-LP, Dinsdag in die Durbanse hooggeregshof die brief beskryf wat adj.pres. Jacob Zuma aan hom geskryf het oor hoekom die destydse spesiale ondersoek-eenheid van regter Willem Heath nie die regering se wapentransaksie mag ondersoek nie.

Woods het getuig in die verhoor van mnr. Schabir Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, wat teregstaan op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Die staat beweer Shaik het gereël dat Zuma omkoopgeld van die Franse wapenmaatskappy Thomson-CSF ontvang.

Die staat het met Woods se getuienis probeer bewys hoe Zuma sy invloed gebruik het om Thomson-CSF teen 'n wapen-ondersoek te beskerm, maar die verdediging voer aan Shaik was onbewus van die brief en dat Zuma bloot die kabinet se mening verwoord het as hoof van regeringsake in die parlement.

Zuma se brief is op 18 Januarie 2001 aan Woods geskryf - 'n dag voordat pres. Thabo Mbeki aangekondig het dat hy nie die nodige proklamasie sou uitreik om die Heath-eenheid by die ondersoek te betrek nie.

Woods se getuienis was dat Mbeki se besluit die kroon gespan het op 'n proses waar die regering die lyn oorgesteek het waarop die skeiding van magte tussen die kabinet en die parlement berus en dat Zuma se brief daarvan getuig.

Hy het die verhaal gaan haal by Verslag 14 van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), wat die besteding van belastinggeld moet monitor. Woods was voorsitter van Skoor toe Verslag 14 aan die einde van 2000 opgestel is.

Die verslag, wat deur Skoor aanvaar is, het bevind dat die mate van korrupsie wat wapentransaksies wêreldwyd gekenmerk word en die omvang van die geld wat betrokke is, beteken dat die plaaslike wapentransaksie grondiglik ondersoek moet word.

Daarom het Skoor aanbeveel dat die openbare beskermer (adv. Selby Baqwa), die nasionale direkteur van openbare vervolging (adv. Bulelani Ngcuka), die ouditeur-generaal (mnr. Shauket Fakie) en die Heath-eenheid die transaksie moet ondersoek.

Volgens Woods het hy algaande bewus geword van druk wat in Desember 2000 op ANC-lede van Skoor opgebou het om hul van Verslag 14 te distansieer nadat hulle deur kabinetslede ingeroep is. Hy het dit as "manipulasie en intimidasie" bestempel.

Op 12 Januarie 2001 het vier kabinetslede hul ontevredenheid uitgespreek omdat die Heath-eenheid betrek is ten spyte daarvan dat die eenheid oorlaai was en die konstitusionele hof bevind het 'n regter mag nie voorsitter van 'n ondersoek-eenheid wees nie.

Op 15 Januarie het dr. Penuell Maduna, destyds minister van justisie, 'n brief aan Mbeki geskryf waarin hy aanbeveel dat die Heath-eenheid nie betrek word nie. Twee dae later het Zuma se brief aan Woods gevolg en die dag daarna het Mbeki aangekondig geen proklamasie sou volg nie.

Dit was regter Hilary Squires wat die sleutelvraag in die hofsaak se konteks gestel het, naamlik of Zuma die brief in sy persoonlike hoedanigheid geskryf het, of as boodskapper van die regering. Hieroor kon Woods nie uitsluitsel gee nie, hoewel hy die toon en aard van die brief as "hoogs ongewoon" ervaar het.

"Zuma se optrede was geheel en al onvanpas en in stryd met die grondwetlike skeiding van magte tussen die staat en die parlement. Die parlement is deur die regering ondervra, eerder as andersom, soos dit hoort," het Woods getuig.

"U het dit dus ervaar as 'n heksejag op u komitee uit hoë kringe, maar u sou nie presies kon sê van wie nie," het Squires gesê.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert, Adriaan Basson en die Beeld.