Publication: Beeld Issued: Date: 2004-12-06 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Shaik Betaal Zuma se Woonstelhuur 'Laat'

 

Publication 

Beeld

Date 2004-12-06

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Durban. - Betalings vir 'n luukse woonstel hier wat mnr. Schabir Shaik vir adj.pres. Jacob Zuma gehuur het, was glo "elke maand laat".

"Ek moes soms vir Zuma self bel om te vra dat iemand asseblief die huur betaal," het me. Tracey O'Brien Maandag in die Shaik-verhoor getuig.

Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Die staat beweer onder meer Shaik en sy maatskappye het ongeveer R1,2 miljoen se betalings aan of namens Zuma gemaak om sy invloed te "koop".

O'Brien het die woonstel oorspronklik aan Shaik onderverhuur met die gedagte dat mnr. Colin Isaacs, finansiële direkteur van Shaik se Nkobi Holdings, daarin sou bly.

In die middel van 1997 het die beheerliggaam van die woonstelgebou haar daarop gewys dat "een of ander BBP" daar bly "want daar was baie lyfwagte met vuurwapens in die gebou".

Shaik het haar ingelig dat Zuma, destyds LUR vir finansies en toerisme in KwaZulu-Natal, daar ingetrek het.

"Ek het by hom (Shaik) gekla oor die laat betaling van huur en gesê Zuma bly onwettig daar. Die huurooreenkoms was nie met hom (Zuma) nie," het O'Brien getuig. Volgens haar het Shaik die huur met tjeks van sy maatskappye betaal. "Party daarvan is geweier."

In die middel van 1999 is O'Brien ingelig dat Nkobi Holdings nie meer die woonstel wil huur nie. Sy het ook besluit om van die meubels in die woonstel aan Shaik te verkoop "wat dit vir Zuma se huis in Zoeloeland wou hê".

Die meubels is glo later "sonder my medewete" na Zuma se huis in Empangeni vervoer. "Ek is nooit daarvoor betaal nie," het sy getuig.

Adv. François van Zyl, SC, namens Shaik, het gesê Shaik het besluit dit sal beter wees as Zuma in dié woonstel gaan bly omdat die minister van intelligensie glo Zuma per faks ingelig het hy kan 'n aanval op sy lewe verwag.

Die faks is glo aan die begin van 1996 na Shaik se huis gestuur.

In sy pleitverduideliking sê Shaik hy het geweet Zuma se "vorige twee huise" is afgebrand en dat hy daarom vir Zuma die woonstel beskikbaar gestel het.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.