'Ek Wou Zuma nie Koop' |
Publication | Die Burger |
Date | 2005-03-02 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Waarom word net hý en adj.pres. Jacob Zuma oor die kole gehaal terwyl "swart sakelui" gereeld saam met pres. Thabo Mbeki in sy private vliegtuig reis?
Dít was gister mnr. Schabir Shaik, wat later na homself as die "pionier van bemagtiging in Suid-Afrika" verwys het, se antwoord op die staat se bewerings dat hy Zuma se invloed "gekoop" het om staatskontrakte vir sy Nkobi-groep te verseker.
Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog.
"Waarom sê niemand iets dáároor nie?" wou Shaik by adv. Billy Downer SC, die hoofaanklaer, weet met verwysing na sy Mbeki-bewerings.
Shaik het die bewerings gemaak nadat Downer dit in kruisverhoor aan hom gestel het dat Zuma hom nie sou kon help as hy nie 'n politikus was nie. Shaik hou vol die betalings wat hy deur die jare aan of namens Zuma gemaak het, was lenings aan 'n "goeie vriend".
Downer het gehamer op 'n 1998-vergadering in Londen, toe Zuma die base van die Franse wapenfirma Thomson-CSF oortuig het Shaik is 'n geskikte swartbemagtigingsvennoot.
Shaik beweer Mbeki en oudpres. Nelson Mandela het aan Thomson-CSF te kenne gegee dat hy nie die regte vennoot vir swart- ekonomiese bemagtiging (SEB) is nie, omdat hy nie 'n "African" is nie.
Ná Zuma se ingryping het Shaik se Nkobi-groep weer indirek 'n aandeelhouer van African Defence Systems (ADS) geword.
ADS het laat in 1998 die regering se R1,3 miljard-kontrak gekry vir die verskaffing van gevegsuites vir die vloot se nuwe fregatte.
Shaik het gister gesê Zuma het hom gehelp omdat hy sy vriend was.
"Sou minister (Makhenkesi) Stofile jou ook gehelp het?" wou Downer weet. "O ja," het Shaik gesê. "Hy is steeds my vriend." Volgens Shaik kon hy minister Jeff Radebe of oudminister Mac Maharaj ook gevra het om vir hom in die bres te tree.
"Die probleem is dat jy mnr. Zuma betaal het," het Downer gesê.
Shaik het die staat gister verbaas deur te sê hy weet nie of daar wetgewing bestaan wat ministers verbied om vir 'n sekere maatskappy op te tree nie.
"Is dit nie die Korrupsiewet nie," wou Downer by Shaik weet. "Ek is nie vertroud met daardie wet nie, u edele," het Shaik geantwoord.
Nadat Downer die Korrupsiewet van 1992 kortliks verduidelik het, het hy Shaik ook daarop gewys dat die Grondwet van regeringsamptenare vereis om nie betrokke te raak by private ondernemings waarin hulle 'n aandeel het nie.
Shaik het ook getuig dat swart en bruin mense, Indiërs én benadeelde wit mense almal uit die regering se SEB moet baat vind.
"Daar was 'n misverstand onder die Franse dat SEB net swart mense insluit. Ek glo dit moet ook Indiërs, bruin mense en benadeelde wit mense help," het Shaik gesê.
Volgens Shaik was dít die rede waarom hy Zuma gevra het om in te gryp nadat sy Nkobi-groep oorspronklik uitgesluit is van 'n maatskappy wat baat gevind het by die regering se omstrede wapentransaksie.
Volgens Shaik het Zuma hóm gehelp, maar sou hy dit vir enige ander maatskappy gedoen het.
Downer wou by Shaik weet of die regte manier nie sou gewees het dat Thomson-CSF by die direkteur-generaal van handel en nywerheid navraag doen oor die kwalifikasies vir SEB-maatskappye nie.
"Ja, maar die Franse weet nie daarvan nie," het Shaik gesê, waarop Downer geantwoord het: "So, toe stuur jy maar 'n politikus daarheen om jou te help."
Downer wou verder weet waarom Shaik sy titel as Zuma se finansiële raadgewer in talle briewe aan potensiële sakevennote genoem het "as dit nie nodig was nie".
Regter Hilary Squires wou ook weet waarom Shaik dié titel "soos 'n kenteken" dra. Volgens Shaik was baie van die korrespondensie namens Zuma.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.