Zuma-Bom Bars op Beraad |
Publication | Die Burger |
Date | 2005-03-23 |
Reporter |
Adriaan Basson, Elsabe Brits |
Web Link |
Kaapstad - Gemoedere op die tweede nasionale teenkorrupsie-beraad in Pretoria het gistermiddag ontplof toe 'n spreker gesê het die beraad is 'n "klug" en "bedrogspul" as daar nie oor adj.pres. Jacob Zuma se beweerde betrokkenheid by korrupsie gepraat mag word nie.
Dít kom nadat mnr. John Ernstzen, voorsitter van die nasionale teenkorrupsie-forum (Nacf) wat die beraad gereël het, enige vrae oor Zuma verbied het nadat mnr. Colm Allan, direkteur van die Public Service Accountability Monitor (PSAM), in die openingsessie gevra het of die beraad ook kwessies oor konflik van belange "soos by die adjunkpresident" gaan bespreek.
Dié sessie is bygewoon deur onder andere mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, me. Geraldine Fraser-Moleketi, minister vir die staatsdiens en administrasie, en adv. Johnny de Lange, adjunkminister van justisie.
Ernstzen het Allan in die bek geruk nadat hy wou weet waarom die openbare beskermer (OB) nie vir Zuma ondersoek nie. Allan het later verduidelik dat dié "konflik van belange" die betalings van mnr. Schabir Shaik aan Zuma was in die tyd dat Shaik baat gevind het by die regering se omstrede wapentransaksie. Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan in die Durbanse hooggeregshof tereg op korrupsieaanklagte waarby Zuma ten nouste betrek word.
Ná Allan se aanmerking in die openingsessie het Ernstzen gevra dat daar nie na individue verwys word as gepraat word van sake wat nog voor die hof is nie. 'n Rukkie later het iemand in die gehoor gevra dat Allan sy vraag terugtrek omdat Zuma nie aangekla word nie. "Ek laat geen verdere debat hieroor toe nie," het Ernstzen gesê.
In 'n latere sessie het die Zuma-bom wéér gebars toe Allan die parlement se oorsigrol bevraagteken het. Allan en mnr. Shauket Fakie, ouditeur-generaal (OG), was die sprekers in dié sessie.
Allan het gevra waarom Zuma nie deur die OB ondersoek is nie en waarom die parlement se etiese komitee nie stappe teen hom gedoen het nie. Hy het ook die hantering van die OG se verslag oor die wapentransaksie gekritiseer en onder meer gevra waarom dit geen aanbevelings vir tugstappe teen mnr. Chippy Shaik, voormalige hoof van die weermag se wapenaankope en broer van Schabir, bevat nie.
In sy reaksie het Fakie gesê Allan moet sy feite reghê voordat hy sulke vrae stel. "As hy wil werk met wat in die media berig is en grondwetlike liggame soos ek daarmee aanvat, is hy 'n groter gevaar as korrupsie," het Fakie gesê.
Intussen het aan die lig gekom dat Suid-Afrika jaarliks R4 miljard weens korrupte staatsamptenare verloor. Die verlies in die private sektor beloop jaarliks tot R50 miljard weens korrupsie.
Boonop word oortreders nie behoorlik vasgevat nie, want tussen 1996 en 2000 was die skuldigbevindingskoers van mense wat ingevolge die voormalige Korrupsiewet oor korrupsie aangekla is, tussen 17% en 12%. Geen inligting is beskikbaar om te sien hoe doeltreffend die nuwe Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite is nie.
Die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) en Transparency International (TI) het pas dié inligting bekend gemaak in 'n verslag van 146 bladsye waarin korrupsie onder die soeklig kom. Daar word onder meer gewaarsku dat 'n leuse van "gretigheid is goed" nie in 'n hoogs verdeelde samelewing moet posvat nie.
Die vinger word ook gewys na die wapen- en reiskoeponskandaal waarby politieke leiers betrokke was.
Op sy beurt het pres. Thabo Mbeki gister by die opening van die teenkorrupsie-beraad te velde getrek teen dié verslag en "gewaarsku teen peilings wat gegrond is op persepsies en nie die werklikheid nie". Mbeki het egter ook gesê meer moet gedoen word om korrupsie in Suid-Afrika te bestry.
Met erkenning aan Adriaan Basson, Elsabé Brits en Die Burger.