Shaik 'Wou nie Geld Kry vir Zuma-Trust' |
Publication | Die Burger |
Date | 2005-02-08 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban - Mnr. Schabir Shaik se weergawe dat hy nie omkoopgeld vir adj.pres. Jacob Zuma gereël het nie, maar 'n skenking vir Zuma se onderwystrust wou beding, is gister in die hooggeregshof hier as "lagwekkend" afgemaak.
Adv. Billy Downer SC, die hoofaanklaer, het die hele dag gebruik om regter Hilary Squires te oortuig waarom die berugte gekodeerde Franse faks, wat Zuma en Shaik met korrupsie verbind, as 'n bewysstuk aanvaar moet word.
Shaik, Zuma se finansiële adviseur, staan tereg op aanklagte van korrupsie en bedrog. Hy is gister deur sy broers Moe en Yunus by die hof ondersteun.
Downer sal vanoggend sy hoofde van betoog oor die toelaatbaarheid van 'n aantal dokumente afsluit, waarna adv. Francois van Zyl SC, namens Shaik, die kans sal kry om te argumenteer.
Die staat voer aan dat die faks 'n uitvoerende verklaring deur 'n mede-samesweerder is en daarom as 'n bewysstuk toegelaat moet word.
Downer het tientalle uitsprake en regsreëls aangehaal ter ondersteuning dat mnr. Alain Thétard, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van die wapenfirma Thomson-CSF en outeur van die faks, nie hoef te getuig vir die faks om teen Shaik gebruik te word nie.
Hy het ook 'n groot deel van die dag gebruik om Shaik se verweer, dat sy korrespondensie met Thomson-CSF gegaan het oor 'n skenking vir die Jacob Zuma Education Trust, te kritiseer.
"In al die korrespondensie is daar nie 'n enkele verwysing na die onderwystrust nie," het Downer gesê.
Volgens hom is die onderwerp van alle korrespondensie "JZ of Zuma" en nié "onderwystrust" nie, en is daar "absoluut geen bewyse" wat die verdediging se weergawe ondersteun nie.
"Daar was geen rede vir Thomson se werknemers om aanhoudend 'n stel vals dokumente te genereer nie. Al die dokumente is stukkies in die groter legkaart," het Downer gesê.
Hy het Shaik se weergawe as "lagwekkend" beskryf.
Volgens Downer gaan die verdediging probeer om vir Thétard as die "grootste uitvaagsel en leuenaar" uit te maak.
"Maar al is hy (Thétard) van nature 'n uitvaagsel en leuenaar, kan sy woord nog steeds aanvaar word. Selfs uitvaagsels en leuenaars vertel soms die waarheid," het Downer gesê.
In 'n ooreenkoms met die Nasionale Vervolgingsgesag het Thétard erken hy was die outeur van die faks, maar gesê dit was 'n geskrewe nota wat hy opgefrommel en weggegooi het. Volgens Downer pas die faks "perfek by elke stukkie getuienis in" en was daar geen rede vir Thétard om te lieg nie.
Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.