Zuma Glo in 2000 Omgekoop |
Publication | Die Burger |
Date | 2004-10-20 |
Reporter |
Dries Liebenberg |
Web Link |
Durban - "Ek weet nie waaroor die bohaai in Suid-Afrika gaan nie. In Frankryk is dit alledaags."
Só het 'n direkteur van die Franse groep Thomson-CSF in 1999 gereageer op 'n koerantopskrif oor beweerde ongerymdhede met Suid-Afrika se wapenaankope.
Me. Marion Marais het in die verhoor van mnr. Schabir Shaik getuig sy het verstaan haar voormalige baas, mnr. Alain Thétard, het met dié opmerking bedoel dat omkopery alledaags in Frankryk is.
Thétard, 'n direkteur van die Franse Thomson-CSF-groep (deesdae Thales), het adj.pres. Jacob Zuma saam met Shaik in Maart 2000 ontmoet, waar die beweerde ooreenkoms om die adjunkpresident om te koop, glo beklink is.
Zuma sou glo Shaik se Nkobi-groep en Thomson - albei betrokke by die verskaffing van wapenstelsels vir die nuwe fregatte - beskerm in die ondersoek na beweerde ongerymdhede met die wapenaankope.
Thétard het volgens getuienis die veelbesproke "gekodeerde faks" aan sy seniors in Frankryk opgestel, waarin besonderhede van die ooreenkoms met Zuma glo genoem word. "Ons wil hiermee toon dat dit (omkopery) 'n aanvaarde praktyk was vir een van die partye wat in die sameswering betrokke was," het adv. Anton Steynberg namens die staat betoog.
Hy het gereageer op etlike besware van die verdediging en regter Hilary Squires oor die toepaslikheid van getuienis dat Thétard invloedrykes wou ontmoet.
"Dit dui op die siening dat informele kontakte met invloedrykes noodsaaklik was om sake te doen," het Steynberg gesê.
Thétard het volgens Marais daarna uitgesien om met Shaik se hulp Zuma te ontmoet.
Sy het getuig kort voor een van sy reise na Durban het Thétard sy hande gevryf en gesê: "Ek hoop ek sal Zuma dié keer ontmoet."
In die jaar wat sy as sekretaresse vir Thétard gewerk het, het hy by tye geïrriteerd geraak as die Nkobi-groep geld gesoek het. "Ek het hulle al so baie geld gegee en hulle wil aanmekaar net meer hê," het Thétard glo op 'n keer gesê.
Die dag toe me. Patricia de Lille, destyds 'n PAC-LP, bewerings oor ongerymdhede met die wapenaankope in die parlement gemaak het, het 'n baie ontstelde werknemer van 'n ander Franse maatskappy by Thétard se kantoor aangekom, het Marais getuig.
Hy en Thétard het agter 'n geslote deur gepraat, wat vir Marais ongewoon was. Sy kon aan die stemme hoor die twee mans is ontsteld.
Thétard het uit sy kantoor gekom en haar aangesê om uit te vind wat De Lille in die parlement gesê het.
Op die vraag of sy die PAC se kantoor moet bel, het Thétard volgens Marais gesê: "Vind net uit."
Hy was duidelik geïrriteerd toe sy dié oggend niks kon uitrig nie, het Marais getuig.
Waar is die faks?
Met erkenning aan Dries Liebenberg en Die Burger.