Publication: Rapport Issued: Date: 2005-12-03 Reporter: EliseMarié Tancred Reporter: Reporter:

Vrou Glo Betaal om Zuma 'te Bedien'

 

Publication 

Rapport

Date

2005-12-03

Reporter

Elise-Marié Tancred

Web Link

www.news24.com

 

'n Beeldskone jong vrou is glo deur die veroordeelde sakeman Schabir Shaik duisende rande betaal om na mnr. Jacob Zuma, voormalige adjunkpresident, "om te sien" en hom "te vermaak".

Die jong bruin vrou, wat bekend staan as "Robin", is blykbaar tot R30 000 per maand vir haar "dienste" betaal om nie net Zuma nie, maar ook Shaik en sy sakevennote af en toe te "bedien". Dit was egter haar hooftaak om na die adjunkpresident om te sien.

Dit blyk uit getuienis wat mnr. Schabir Shaik-Ibrahim, in daardie stadium besturende direkteur van Nkobi Tech Transport Systems, in Oktober 2003 voor die Skerpioene afgelê het as deel van die eenheid se ondersoek na die wapentransaksie.

'n Getranskribeerde weergawe van Ibrahim se mondelinge getuienis is in Rapport se besit.

Zuma is luidens die getuienis gereeld deur die jong vrou, wat soms ook as " 'n skakelbeampte" vir Shaik se maatskappy, Nkobi Holdings, opgetree het, "vermaak".

Volgens Ibrahim, wat deesdae in Indonesië is, het hy die jong vrou net 'n paar keer by Shaik se maatskappy gesien. Sy was ook nie bereikbaar nie omdat sy nou saam met haar man en kind in Nederland woon.

"Destyds is gesê sy studeer oorsee en tree soms as skakelbeampte vir Nkobi Holdings op," het Ibrahim getuig.

Volgens Ibrahim het Shaik gereeld voor hom met Zuma oor 'n luidspreker-foon gepraat en selfs by geleentheid met die jong vrou se dienste gespog. "Hy het gesê sy is Zuma se pomp," het Ibrahim gesê.

Volgens Ibrahim het die jong vrou gereeld tjeks van tussen R20 000 en R30 000 by die kantoor kom haal. Die geld was volgens Shaik "lenings" aan haar.

"Ek dink nie dit was lenings nie - die geld is nooit terugbetaal nie," het Ibrahim gesê.

Ibrahim kon 'n bepaalde geleentheid vroeg in 2000 onthou toe 'n tjek vir R30 000 uit Shaik se persoonlike rekening aan haar betaal is.

Die vrou het ook in Mei 2001 'n gholfdag van Nkobi Tech Transport Systems by die Royal Durban-gholfbaan as skakelbeampte bygewoon.

"Sy het onder meer by die agste putjie gestaan en drankies en toebroodjies uitgedeel. By 'n ander geleentheid het sy haar baba vir die personeellede by die kantoor kom wys," het Ibrahim onthou.

Volgens sy inligting het die vrou oorsee gewoon en was sy van in die twintig jaar. "Sy was baie mooi, baie mooi - aantreklik. Ek dink sy is nou getroud en woon in Nederland."

Volgens Ibrahim het Shaik se sekretaresses, Bianca Singh en Candice Goodwood, haar goed geken.

Ook Shaik se finansiële direkteur, Colin Isaacs, het van haar geweet.

Sowel Singh as Isaacs is deur Rapport om kommentaar genader, maar nie een wou iets sê nie.

With acknowledgements to Elise-Marié Tancred and Rapport.