Publication: Beeld Issued: Date: 2005-09-01 Reporter: Ferdi Greyling Reporter:

Beeld-Forum: Is Mbeki se Styl in Zuma se Guns?

 

Publication 

Beeld

Date

2005-09-01

Reporter

Ferdi Greyling

Web link

 

Die ANC-alliansie is heel waarskynlik in die proses om uitmekaargeskeur te word deur 'n interne bakleiery en in die middel van al die aksie en drama staan die voormalige adjunk-president, mnr. Jacob Zuma, met 'n salige glimlag.

Hy neem nie self aan die bakleiery deel nie. Hy word elke nou en dan gesien waar hy soos 'n geliefde oom glimlag en hande skud.

Maar die hele bakleiery word in sy naam gevoer.

Die verhaal gaan terug na verlede jaar toe die kwessie van pres. Thabo Mbeki se opvolger vir die eerste keer na vore gekom het en Zuma duidelik laat blyk het hy stel belang. Omtrent terselfdertyd het Cosatu laat blyk hulle dink Zuma is 'n goeie keuse. Kort daarna het die ANC se jeugliga ingespring en in hul jeugdige wysheid verklaar hulle reken ook hy is 'n goeie keuse.

Daar het toe reeds 'n swaard oor Zuma se kop gehang - vandat die vorige hoof van vervolging, adv. Bulelani Ngcuka, volgens gerugte glo gesê het Zuma gaan vir bedrog aangekla word.

Die nuus was uit: Zuma is onder verdenking. Van daar het dinge vinnig ontwikkel deur die Shaik-verhoor tot by Zuma se eerste hofverskyning onlangs. Hoe nader die verskyning gekom het, hoe harder het Cosatu en die SAKP hul steun aan hom bevestig.

Die steun was wisselvallig in inhoud, maar standvastig in emosie en lawaai.

Die inhoud se wisselvalligheid het op die oog af baie te doen gehad met 'n algemene persepsie oor Zuma se beweerde betrokkenheid by onderduimsheid. Dit was aanvanklik 'n vae vermoede en daar was woede dat hy só beskinder kan word. Dit het op die Hefer-kommissie uitgeloop nadat Ngcuka deur pro-Zuma- mense daarvan beskuldig is dat hy in apartheid-tye 'n spioen vir die regering was.

Toe kom Shaik se saak. Eers is daar klaarblyklik geglo Shaik sal die aanklagte redelik maklik kan systap. Namate die saak gevorder het, het dit egter slegter begin lyk en uiteindelik is hy skuldig bevind aan bedrog. Die nou reeds bekende frase is geformuleer: Shaik het 'n korrupte verhouding met Zuma gehad.

Die Shaik-saak was die fase waarin Zuma-aanhangers daarop aangedring het dat Zuma "sy dag in die hof" moet kry - saam met 'n sterk geloof in sy onskuld. Toe die Shaik- uitspraak klaarblyklik ingesink het, is die aandrang verander na een dat hy nie verhoor moet word nie - op gronde dat daar ten eerste 'n komplot teen hom is en dat hy ten tweede oor die media-aandag nie meer 'n regverdige verhoor sal kan kry nie.

Die Zuma-steun se inhoud was wisselvallig en uiteindelik 'n teenstrydigheid: verhoor hom/moet hom nie verhoor nie. In die proses het 'n organisasie soos Cosatu wat 'n trotse intellektuele en beginselvaste verlede het, in werklikheid begin aandring dat die Grondwet opgeskeur moet word. Alles vir Zuma wat deur alles sit en glimlag en nie 'n woord in die openbaar sê nie.

Die steun se volume en emosie het egter deurgaans hoër geraak.

Dit het die vraag laat ontstaan waarom hulle hom só heftig ondersteun.

Die afgelope maande het drie faktore hieroor na vore gekom.

In die eerste plek lyk dit of Zuma simpatie aan Cosatu en die SAKP belowe het vir hul sosialistiese idees. Die twee organisasies wil die armes se lot op sosialistiese maniere verbeter. Van Mbeki het hulle egter 'n kil ontvangs en kapitalisme gekry.

Die tweede faktor is moontlik dat Zuma hulle reeds senior regeringsposte belowe het. Dit maak sin om hom te bly steun as sy presidentskap vir 'n ander 'n kabinetspos kan beteken .

Die derde rede wat aangegee word hoekom senior mense in die ANC, mense wat nie sosialiste is nie, hom steun, is dat hulle kwaad vir Mbeki is omdat hy alleen die septer in die party en die regering swaai en nie teenstand duld nie.

Terselfdertyd het hy 'n verhewe, onemosionele politieke styl.

Baie mense is kwaad omdat hy maak soos hy wil sonder om hom aan hulle te steur en omdat hy afsydig is. En natuurlik omdat hy opponente vermorsel. Maar hier is waar sy teenstanders in die ANC, dié wat reeds posisies het en nie sosialiste is nie, ook 'n belangrike toets druip - omdat hulle kwaad is vir Mbeki, steun hulle 'n leier waaroor daar ernstige vrae is rakende korrupsie, 'n leier wat eersdaags in die hof moet verskyn.

En die prys wat hulle bereid is om te betaal, is die vernietiging van die Grondwet waarvoor hulle so lank baklei het.

Dalk kry hulle Zuma en 'n verbreekte Grondwet.

Wat dan? Só 'n situasie sal aanhou lank nadat Mbeki reeds van die toneel verdwyn het.

Met erkenning aan Ferdi Greyling en die Beeld.