Publication: Beeld Issued: Date: 2005-06-23 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Thint nie Beskuldig Soos Shaik 'en dis al'

 

Publication 

Beeld

Date

2005-06-23

Reporter

Adriaan Basson

Web link

 

Die Franse wapenreus Thales het vandeesweek, drie weke nadat regter Hilary Squires bevind het dié maatskappy het ingestem om om koopgeld aan mnr. Jacob Zuma te betaal, vir die eerste keer op dié uitspraak gereageer.

Die maatskappy het gesê hy is nie saam met Schabir Shaik aangekla nie en ontken steeds alle bewerings van korrupsie.

"Thales het niks meer om te sê oor dié kwessie nie," het me. Natasha Harvey, woordvoerder van Thales, bygevoeg.

Harvey het verwys na 'n verklaring wat Thales uitgereik het toe aanklagte op 11 Oktober verlede jaar in die Durbanse hooggeregshof teen Thint, sy Suid-Afrikaanse filiaal, teruggetrek is.

Die staat het voor die begin van die Shaik- verhoor 'n ooreenkoms met Thint aangegaan om die aanklagte teen hom terug te trek mits mnr. Alain Thétard, voormalige hoof van Thint, in 'n beëdigde verklaring erken hy het die berugte gekodeerde Franse faks geskryf.

Dié ooreenkoms is aangegaan tussen die Thales-base, adv. Bulelani Ngcuka, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, en dr. Penuell Maduna, gewese minister van justisie.

Dié faks was deurslaggewend in Squires se bevinding dat Zuma ingestem het om R500 000 per jaar van Thales te ontvang. Shaik het hierdie omkopery "gereël".

Luidens die faks sou Zuma Thales beskerm teen 'n wapenondersoek en die onderneming se belange in Suid-Afrika bevorder.

In sy vorige verklaring het Thales gesê hy "het nog altyd met die Suid-Afrikaanse owerhede saamgewerk en behou ons vertroue in die hofverrigtinge se uitkoms ".

Squires het in sy uitspraak bevind dat vergaderings tussen Shaik, Zuma en Thétard oor 'n omkoopooreenkoms was en níé 'n skenking aan die Jacob Zuma Education-trust, soos Shaik beweer het, nie.

Op 10 of 11 Maart 2000 het die drie mans in Durban vergader en het Zuma, volgens Squires, met 'n kode ingestem tot die omkopery.

Thint se prokureur het destyds gesê hulle is verlig dat die aanklagte teen hulle teruggetrek is, maar bewus daarvan dat die nasionale vervolgingsgesag (NV) enige tyd weer stappe teen hulle kan doen.

Mnr. Pierre Moynot, hoof van Thint, het in hofstukke gesê die maatskappy ly skade weens die aanklagte wat oor sy kop gehang het.

Moynot het in die Shaik-verhoor getuig dat besluite oor wapenaankope in Suid-Afrika deur politici geneem word.

Daarom moet internasionale wapenmaatskappye se politieke kontakte so goed moontlik wees om te weet wie watter kontrak gaan kry, het hy gesê.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.