Publication: Die Burger Date: 2005-10-19 Reporter: Willem Jordaan Reporter:

ANC Wil Gesigloses Tug, Maar Sien Zuma Oor

 

Publication 

Die Burger

Date

2005-10-19

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com

 

Verlede week het mnr. Jacob Zuma, die afgedankte adjunkpresident, hom weer bewys as 'n populistiese pierewaaier.

Kort nadat hy in die Durbanse hooggeregshof verskyn het, het hy sy vervolging luidens nuusberigte vergelyk met die behandeling wat hy onder die apartheidsregering ontvang het. Sy woorde het natuurlik die hartsnare geroer van die sowat 3 000 ondersteuners - wat hulle intussen besig gehou het deur T-hemde met pres. Thabo Mbeki se gesig op te verbrand.

In 'n gebaar van eenheid met dié skare het Zuma toe ook 'n tydjie afgeknyp om bevrydingsliedere te sing.

Die kabinet het agterna in 'n verklaring die verbranding van die Mbeki-hemde skerp veroordeel en in Donderdag se koukus het die voorsitter van die ANC, mnr. Mosiuoa Lekota, ook hard gepraat. Hy het dit duidelik gemaak dat dié soort optrede nie van ANC-lede geduld sal word nie en dat lidmaatskap van dié organisasies respek veronderstel vir die ampte wat sy hoogste lede beklee.

Ook die ANC het in 'n openbare verklaring die T-hemp-episode verdoem.

Nóg die kabinet nóg Lekota nóg die ANC se reaksie raak die kruks van die saak aan. Zuma se uitlatings was in die eerste plek 'n aanval op die regbank as een van ons grondwetlike instellings. Dit is maklik om gesiglose individue te veroordeel vir 'n gebrek aan respek vir die amp van die president, maar wat van Zuma se gebrekkige respek vir die regbank?

Op die vergadering van die ANC se nasionale voorbereidingskomitee Maandag in Luthuli-huis is besluit dat tugstappe gedoen sal word teen die gesiglose individue wat Mbeki-hemde verbrand het. Maar wat van Zuma?

Sekerlik verdien Zuma om ook regstreeks voor stok gekry te word, veral in dié opsig dat sy optrede 'n skreiende verbreking behels van die ondernemings wat hy in 'n gesamentlike verklaring met pres. Thabo Mbeki gedoen het.

Net om die geheue 'n bietjie te verfris: In dié verklaring het Zuma hom onomwonde verbind om met Mbeki saam te werk en volwasse oplossings te vind vir die verdeeldheid wat die regerende alliansie tans teister.

In besonder het hy hom verbind tot respek vir die regstaat en staatsinstellings (lees: die howe en die Skerpioene). Sy en Mbeki se woorde was: "In ons strewe om die huidige probleme op te los, is dit belangrik dat die ANC hom hou by die basiese beginsels wat as rigsnoer dien vir die proses van maatskaplike transformasie."

Heel bo aan Zuma en Mbeki se lysie van dié beginsels is "respek vir die regstaat, met insluiting van staatsinstellings met die mandaat om wetstoepassing en juridiese funksies uit te voer".

Dus: met sy uitlatings voor die Durbanse hooggeregshof het Zuma sy belofte van verlede maand verbreek deur die einste instellings wat hy onderneem het om te respekteer, eerder te vertrap. Duidelik sal die ANC en sy strukture een of ander tyd tot 'n besluit moet kom oor of hy Zuma hiervoor tot verantwoording gaan roep.

In 'n breër konteks verteenwoordig Zuma se uitlatings 'n verskerping van die diskoers wat nog deurlopend onderliggend was aan die twis tussen die Mbeki-kamp en die Zuma-kamp.

Toenemend het dié diskoers te make met 'n stryd oor wie nou eintlik die ware beskermheer van die ideale van die bevrydingstryd is. Met Zuma se uitlatings voor die Durbanse hooggeregshof het hy duidelik die implikasie gelaat dat hy aan dié ideale getrou gebly het, terwyl sy teenstanders (lees: Mbeki) dit in só 'n mate versaak het dat hy nou selfs dieselfde soort behandeling as onder die apartheids?regering kry.

Zuma weet duidelik dat daar 'n persepsie bestaan dat Mbeki sy beeld as bevrydingsleier 'n bietjie opsy geskuif het namate hy hom as 'n politikus-bestuurder en internasionale staatsman gevestig het, en nou probeer Zuma hieruit munt slaan.

Aan die ander kant wil Mbeki duidelik homself steeds projekteer as die ware bewaarheer van bevrydingstryd-ideale en daarom is bevrydingsretoriek (weliswaar in diens van beleidsdoelwitte) altyd 'n belangrike element van sy toesprake.

In die verlede was bevrydingstryd-sentiment nog altyd die belangrikste bestanddeel van die sement waarmee alliansiekrake toegepleister word.

Zuma se optrede voor die Durbanse hooggeregsof onderstreep egter die die feit dat dit toenemend gebeur dat die verdeelde regerende alliansie bots oor wie nou eintlik die ware beskermheer van die waardes van die bevrydingstryd is.

In stede daarvan dat bevrydingsentiment dus 'n verenigende invloed het, word dit toenemend die bron van verdeling. Wanneer die interne debat in die regerende alliansie eers op dié terrein begin beweeg, begin die krake duidelik tot in die fondamente versprei.

Teen hierdie agtergrond sou mens graag van ANC-kant wou hoor of Zuma se optrede volgens dié organisasie sy onderneming om na oplossings vir die alliansie se interne twis te help soek, gestand gedoen het.

Willem Jordaan is die politieke beriggewer van Die Burger. Dié rubriek is sy eie mening.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.