Publication: Rapport Issued: Date: 2005-06-05 Reporter: Pieter Malan Reporter:

Staat Kan Kontrak Oor Wapens Herroep

 

Publication 

Rapport

Date

2005-06-05

Reporter

Pieter Malan

Web link

http://152.111.1.251

 

Die Suid-Afrikaanse regering het die reg om die kontrak met die Franse wapenvervaardiger Thomson Thales te eniger tyd te kanselleer nadat die Durbanse sakeman Schabir Shaik aan korrupsie skuldig bevind is.

Die regering se reg om die koop te kanselleer, berus op 'n bepaling in die wapenkontrakte, wat in Desember 1999 onderteken is en waarvan Rapport 'n afskrif in sy besit het.

Op bl. 53 van die kontrak, onder die opskrif "Remedies in geval van omkopery", bepaal die kontrak dat as die verkoper (in hierdie geval Thomson-CSF en African Defence Systems -ADS) of "enige van sy lede of verteenwoordigers skuldig bevind word aan 'n misdryf onder die Wet op die Voorkoming van Korrupsie of enige soortgelyke wetgewing", die regering en Krygkor die reg het om die kontrak summier te beëindig.

Shaik, in sy hoedanigheid as aandeelhouer in ADS, was presies so iemand en die feit dat hy skuldig bevind is aan korrupsie beteken dus dat die kontrak ingevolge die oorspronklike koopkontrak gekanselleer kan word.

Die kontrak stipuleer verder dat die SuidAfrikaanse regering skadevergoeding kan eis vir die kansellasie. Die regering kan hierdie skade self bereken of alternatiewelik kan die partye ooreenkom om die skadevergoedingsbedrag op 10% van die kontrakprys vas te stel.

Die waarde van Thomson se aandeel in die korvet-kontrak was net meer as R25 miljoen (sic - R1,3 billion).

Die maatskappye is verantwoordelik vir die wapenstelsel aan boord van die vloot se vier nuwe korvette. Die skepe is reeds gebou en is al in Suid-Afrika, waar hulle in die vloot se skeepswerf in Simonstad uitgerus word.

'n Bron na aan die vloot sê die werk aan die installasie van die wapenstelsel aan die eerste korvet het maar pas begin en dit is dus teoreties moontlik om die kontrak summier te beeindig soos wat klousule 19 van die kontrak bepaal.

Mnr. Terry Crawford-Browne, voorsitter van Economist Allied for Arms Reduction (Ecaar), sê hy glo die Shaik-uitspraak is beslis rede om die kontrak te kanselleer.

Hy sê die huidige onrus rondom behuising in die land bewys wat sy en ander organisasies reeds jare lank aanvoer: die mense van Suid-Afrika het huise en grond nodig, nie wapentuig nie.

"Die uitspraak in die Shaik-verhoor is dus die ideale geleentheid om hierdie fout reg te stel en die kontrakte te kanselleer op grond daarvan dat daar duidelike bewyse van korrupsie in die proses was."

Crawford-Browne sê die uitspraak is 'n baken in die stryd teen korrupsie wêreldwyd omdat dit die rol uitstippel wat Europese maatskappye speel in die bevordering van korrupsie in Afrika. "Thomson-CSF is berug om sy korrupte sakepraktyke wêreldwyd. Ons almal kan korrupsie 'n myl ver ruik, maar dit is 'n heeltemal ander ding om dit te bewys. Hier het ons nou die bewyse."

Met erkenning aan Pieter Malan en Rapport.