Munt Sonder Kruis? |
Publication | Beeld |
Date |
2005-05-12 |
Reporter |
Adriaan Basson, Jan-Jan Joubert |
Web Link |
'n Teenvraag deur mnr. Schabir Shaik se advokaat in die doodsnikke van sy marathon-verhoor vat waarskynlik die ongewone situasie waarin adj.pres. Jacob Zuma hom tans bevind, ten beste vas.
Adv. Billy Downer, SC, die hoofaanklaer, was besig om die laaste spykers van sy slotbetoog in te kap en het die hof probeer oortuig om 'n beweerde "leningsooreenkoms" tussen Zuma en Shaik, waarvan die oorspronklike glo weg is, te verwerp.
Downer: "Daar is een persoon wat ons hiermee (die verlore 'leningsooreenkoms') sou kon help, en dit is Jacob Zuma. Hy is egter nie deur die verdediging geroep om te getuig nie."
Downer het verder betoog dat die verdediging betalings deur Shaik aan Zuma "isoleer" van Zuma se "teenprestasie" en dat dit twee kante van dieselfde munt is.
Oomblikke later is adv. François van Zyl, SC, Shaik se regsverteenwoordiger, egter toegelaat om die laaste woord te spreek.
Van Zyl: "As die staat vra waarom Zuma nie getuig het nie, dan vra ek waarom hy nie aangekla is nie. Hy was dan deel van die beweerde omkopery."
Die Shaik-verhoor is in vele opsigte 'n unieke gebeurtenis. Die grootste vreemdheid is dat dit 'n korrupsieverhoor is waar net een van die beweerde samesweerders tereg staan.
Met die eerste korrupsieklag beweer die staat Zuma is gekorrupteer deur die korrupteerder - Shaik. Net Shaik word hiervan aangekla.
Met die tweede korrupsieklag beweer die staat Shaik het gereël dat Zuma gekorrupteer word deur die Franse wapenfirma Thomson-CSF (Thales). Net Shaik word hiervan aangekla.
Enigeen kan sien dat dit 'n uiters on gewone situasie is. Hoe kan die beweerde "steler" vervolg word sonder om die "deler" se kant te hoor?
Adv. Bulelani Ngcuka, voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging (DOV), het destyds besluit om Zuma nie te vervolg nie. Dit was nadat dié "kroonprins" onder meer 35 vrae van die Skerpioene skriftelik beantwoord het.
Die vrae is in die media gepubliseer. Die antwoorde sal waarskynlik altyd 'n geheim bly.
Ngcuka het die ongewone stap gedoen om op 'n mediakonferensie aan te kondig dat die nasionale vervolgingsgesag (NV) prima facie-bewyse teen Zuma het, maar nie oortuig is daarvan dat hulle 'n saak teen hom kan wen nie.
Dis hieroor dat baie mense hul koppe in ongeloof skud. Prima facie-bewyse is dan juis wat mens soek voordat jy 'n vermeende misdadiger in die beskuldigdebank laat staan.
Uiteindelik is besluit om net Shaik en tien van sy maatskappye aan te kla. Selfs Thales se naam is van die klagstaat verwyder in ruil vir 'n beëdigde verklaring deur mnr. Alain Thétard, Thales se voormalige Suid-Afrikaanse hoof, dat hy die outeur was van die berugte Franse "omkoopnota".
Nou is die Shaik-verhoor verby en wag die land in spanning op die oordeelsdag wanneer regter Hilary Squires sal beslis of Shaik 'n skurk of Samaritaan was.
Maar daar is 'n ander vraag. Dit is die verskuilde, maar immer teenwoordige werklike sleutelvraag: Wat van Zuma? Gaan hy aangekla word as Shaik sink?
Dít is uiteindelik 'n besluit wat op die hoogste vlak geneem sal word. Adv. Vusi Pikoli, Ngcuka se opvolger, is vroeër vanjaar deur pres. Thabo Mbeki aangestel.
'n Besluit om die land se onderhoofleier strafregtelik aan te kla sal beslis nie ligtelik geneem word nie en hou reusegevolge vir Suid-Afrika in. Want só 'n aanklag in die hofsaal sal 'n direkte gevolg hê vir 'n ander uitspraak - in die onseker, harde wêreld van die magspolitiek.
Zuma staan immers eerste in die ry om Mbeki se kroon in 2009 oor te neem. Maar die Shaik-saak gooi duwweltjies in sy pad.
Voor die Shaik-vervolging het dit gelyk asof Zuma se pad na die presidensie geplavei is met die "welkom"-matjie wat reeds voor Tuynhuys wink.
Hy het in die bevrydingstryd naam gemaak as die ANC se intelligensiehoof met Moe Shaik, broer van Schabir, as sy adjudant.
Verder het Zuma groot lof ingeoes vir die wyse waarop hy die IVP by onderhandelings betrek het in die nadraai van die laevlak-burgeroorlog in KwaZulu-Natal. Konsensus is (ironies genoeg, gegewe huidige kennis oor sy geldsake!) dat hy 'n goeie LUR vir eko nomiese sake was.
Dit is bekend dat Zuma steeds die gunsteling-ANC-lid is onder die IVP- leierskap en dat hy ingestuur word om te onderhandel elke keer as die korrelkop-groep in Inkatha moeilikheid gaan maak.
Zuma het ook oral lof ingeoes vir sy charismatiese persoonlikheid en werk ywer. Hy het, veel meer as Mbeki, die common touch wat so dikwels 'n x-faktor in politieke sukses is. En hy het nie vervreemd geraak van die linkses wat onder Mbeki se skerp tong deurgeloop het nie.
Die Shaik-saak het dit alles verander, want dit het groot swakhede van Zuma genadeloos blootgestel, juis in die tyd dat die kollig skerper val op Mbeki se opvolgers.
Wat weet ons nou van Zuma wat ons nie vroeër geweet het nie?
• Nou weet ons Zuma sal nooit genoeg geld met sy regeringsalaris verdien om sy skuld te delg nie. Sy maandelikse skuld is omtrent so groot soos sy salaris en hy is minstens vir die res van sy ampstermyn afhanklik van eksterne inkomste om te oorleef.
• Ons weet ook dat ander sakemense soos me. Nora Fakude-Nkuna, mnr. Jurgen Kögl en mnr. Vivian Reddy Zuma-uitgawes soos die verband op sy Nkandla-woning betaal.
• Ons weet, na aanleiding van die Hefer-kommissie wat 'n voorspel tot die Shaik-verhoor was, dat Zuma vriende het van twyfelagtige aansien, wat verbete vir sy belange sal veg en gerugte sal versprei teen sy teenstanders op 'n vuige vlak wat die Suid-Afrikaanse politiek nie tot eer strek nie.
Wat sy politieke aansien betref, moet mense die positiewe en die negatiewe opweeg. Dat dit negatief geraak is, kan niemand betwis nie. Dis die omvang wat onseker is.
En die regsargument oor of die adjunkpresident in die beskuldigdebank moet of moes gaan staan? Dís 'n moeilike een waaroor mense seker altyd sal verskil.
Squires se uitspraak (waarskynlik op 31 Mei - Republiekdag in die ou bedeling waarteen Zuma gestry het) sal 'n rigtingwyser wees.
As Shaik skuldig bevind word, berus die besluit of Zuma aangekla moet word by Pikoli. Maar selfs al word Shaik onskuldig bevind, sal Zuma steeds voor die politieke regbank staan, met die presidentskap as prys.
Dit is 'n ander geregtigheid dié, wat op 'n juriestelsel berus: Die openbare mening, politieke magshebbers, eiebelang, ekonomiese werklikhede en onderduimse vuil spel na alle kante werk in wisselende verhouding mee om dié uitspraak net so onseker te maak soos enige in 'n konvensionele hofsaal.
Met erkenning aan Adriaan Basson, Jan-Jan Joubert en die Beeld.