Publication: Beeld Date: 2005-10-24 Reporter: Erika Gibson Reporter:

Lugmag Kry Nuwe Heli's

 

Publication 

Beeld

Date

2005-10-24

Reporter

Erika Gibson

Web Link

www.news24.com

 

Die lugmag se eerste nuwe ligte helikopters is pas in diens geneem, maar basiese helikopteropleiding sal dalk vanweë die helikopter se gevorderde tegnologie aan die private sektor uitgekontrakteer moet word.

Die eerste vier AgustaWestland - helikopters is die afgelope week amptelik aan 87 Helikoptervliegskool op die Bloemspruit-lugmagbasis oorhandig.

Dit is die eerste aflewering van nuwe toerusting aan die lugmag ingevolge die land se multimiljardrand-wapentransaksie.

Volgens lt.genl. Carlo Gagiano, lugmaghoof, was dit hoog tyd dat die Alouette-helikopter vervang word, want hy doen al sedert 1962 diens in die lugmag.

Die Agusta het die jongste tegnologie wat betref avionika, is tweemotorig en beskik oor 'n volledige nagvliegvermoë - iets wat slegs tydens volmaan met die Alouette moontlik was.

Dit is juis dié gevorderde konsepte, asook die outomatiese vliegstelsel, wat die lugmag laat besef het dat hy alternatiewe opleiding moet bekyk , het Gagiano gesê.

Hoewel een van die vereistes vir die nuwe helikopter destyds was dat dit vir basiese opleiding gebruik kan word, meen Gagiano dit sal goedkoper wees om dit uit te kontrakteer. Hy hoop die opleiding sal so gou moontlik begin.

Die Agustas sal regstreeks operasioneel gebruik word en dalk selfs in een van die vredesendings om die doeltreffendheid of tekortkominge daarvan te bepaal. Vier helikoptervlieëniers, onder wie maj. Liesl Bennett, een van die lugmag se eerste vrouevlieëniers, is reeds ten volle vir die Agusta opgelei en nog vier begin eersdaags met opleiding.

Die eerste 10 helikopters behoort teen einde vanjaar afgelewer te wees, met een tot twee per maand daarna totdat al 30 gelewer is. Hulle sal verdeel word tussen Bloemspruit, 17 Eskader in Centurion en 19 Eskader in Makhado, terwyl Ysterplaat in Kaapstad vir eers die Alouette sal behou vir gebruik op die vloot se skepe tot in 2007.

Met erkenning aan Erika Gibson en die Beeld.