Publication: Beeld Issued: Date: 2005-05-12 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Onbestrede Bevindings Oor Geld

 

Publication 

Beeld

Date

2005-05-12

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

"Getuienis oor Zuma se beweerde betrokkenheid by omkopery sal ook net toelaatbaar wees sover dit Shaik raak."

Dít was regter Hilary Squires se woorde op die vierde dag van die Schabir Shaik-verhoor in Durban.

Vanaf dag een tot 68 was die adjunkpresident se betrokkenheid egter onlosmaaklik deel van die saak. Baie bewerings, wat Squires teen mekaar opweeg, is oor hom gemaak.

Maar selfs al word Shaik onskuldig bevind, is die volgende feite - waarvan baie onbestrede bevindings van KPMG se forensiese ondersoekspan is - deel van die hofrekord:

• Shaik het vir Zuma Hugo Boss- en Armani-manspakke gekoop;

• Zuma moet geld van Shaik en ander "leen" omdat sy salaris nie genoeg is om sy lewenstyl te handhaaf nie;

• Net die rente wat Zuma op sy skuld behoort af te betaal, is omtrent soveel as sy salaris;

• Bohlabela Wheels, 'n swartbemagtigingsfirma wat die weermag en polisie se voertuie herstel, het R140 000 vir die bou van Zuma se huis betaal;

• ‘n Oorspronklike "leningsooreenkoms" van R2 miljoen tussen Shaik en Zuma is weg;

• Zuma kan nie sy skuld terugbetaal nie en is afhanklik van eksterne geldbronne;

• Zuma is nie 'n aandeelhouer in Shaik se firma Nkobi Holdings nie;

• Zuma het die base van Thales oortuig dat Shaik 'n geskikte swart bemagtigingsvennoot is;

• Hierna het Shaik weer 'n indirekte aandeelhouer in African Defence Systems (ADS) - die firma wat gevegsuites vir die vloot se vier nuwe korvette voorsien het - geword;

• Zuma het in Maart 2000 'n vergadering met Shaik en die wapenhandelaar Alain Thétard in Durban bygewoon;

• Shaik het paaiemente vir Zuma se Toyota Camry betaal;

• Shaik het paaiemente en versienings vir Zuma se Mercedes-Benz en Mitsubishi Pajero betaal;

• Shaik het Zuma se persoonlike lyfwagte betaal;

• Shaik het Zuma se huurgeld vir 'n woonstel in Durban betaal;

• Shaik het Zuma se private huurvlugte na ANC-vergaderings betaal;

• Shaik kan geld uit Zuma se bankrekenings vat soos hy wil;

• Zuma het gereeld sy kredietlimiet by Absa oorskry en is uit dié private bank geskop; en

• Shaik doen steeds betalings aan of namens Zuma;

Bedrog-'bekentenis' 'n terugvalopsie; Zuma dan skoon

Adj.pres. Jacob Zuma se naam het voortdurend in die Shaik-verhoor opgeduik , maar veral in die slotbetoë.

Adv. Billy Downer, SC, die hoofaanklaer, het aangevoer Shaik het Zuma aanhou betaal om hom in 'n politieke posisie te hou waaruit hy Shaik se pri vate belange kon bevorder.

'n "Algemeen korrupte verhouding", het Downer die betalings aan Zuma genoem en geargumenteer dat die adjunkpresident in 'n situasie was waar hy nie vir Shaik - sy "geldbron" - kon nee sê nie.

Maar dit was 'n alternatiewe argument vir aanklag drie deur adv. François van Zyl, SC, Shaik se regsverteen woordiger, wat vir die grootste opskudding gesorg het.

Sommige waarnemers het onlangs selfs sover gegaan om te sê Shaik het op sy swaard geval en dat Zuma nou weer witter as sneeu is - ongeag die uitspraak in die Shaik-saak.

Van Zyl se argument behels die volgende: As regter Hilary Squires sou bevind dat Shaik se verweer (dat die kommunikasie tussen hom, Zuma en Thales oor 'n skenking vir Zuma se onderwystrust gegaan het) 'n leuen was - en slegs dán - is daar moontlik 'n ander verduideliking waarom Shaik nie die waarheid aan die hof vertel het nie.

Die staat kon nie bewys dat Zuma geweet het dit is omkoopgeld wat Shaik namens hom beding het nie en dit is dus 'n redelike moontlikheid dat Shaik geld vir homself kon verkwansel deur Zuma daarvoor te misbruik.

Shaik is dan skuldig aan bedrog teenoor mnr. Alain Thétard, maar nié korrupsie nie. En Zuma is dan silwerskoon. Tot hier Van Zyl se argument - duidelik deur homself aangetoon as 'n terugvalopsie as sy basiese argument misluk.

Dié nuwe argument is dus nie 'n er kenning nie. Dit is bloot 'n regsargument wat Squires kan oorweeg as hy Shaik se getuienis oor aanklag drie verwerp.

Downer was nie bë?ndruk nie en het dit bestempel as 'n oulaase gryp na strooihalms .

Of dit hoegenaamd in spel gaan kom, sal 'n mens eers weet wanneer Squires einde vandeesmaand uitspraak lewer.

Met erkenning aan Adriaan Basson en die Beeld.