Skatryk Makelaar is dalk Laaste Shaik-skakel |
Publication | Die Burger |
Date |
2005-08-26 |
Web link |
JOHANNESBURG - Die Skerpioene het moontlik hul laaste skakel gevind in die geldspoor van omkoopgeld wat volgens regter Hilary Squires deur die Franse wapenfirma Thales aan mnr. Jacob Zuma betaal is.
Hy is mnr. Jurgen Kögl, skatryk Johannesburgse makelaar en direkteur van meer as 50 geregistreerde maatskappye.
Die Skerpioene het verlede week met die Zuma klopjagte ook toegeslaan op Kögl se kantoor en huis en beslag gelę op dokumente en rekenaar-hardeskywe.
'n Beëdigde verklaring deur mnr. Johan du Plooy, ondersoekbeampte in die Zuma-saak, werp meer lig op die Kögl-klopjagte en verbind hom met die Thales-geld wat Zuma glo ontvang het. Die verklaring was deel van die Skerpioene se aansoek voor regter-president Bernard Ngoepe van Transvaal om lasbriewe te bekom vir die klopjagte.
Luidens Du Plooy se verklaring is dit redelik om te glo dat Kögl se beleggingsmaatskappy Cay Nominees gebruik is om "opbrengste uit misdaad" te verdoesel, gegewe Squires se uitspraak dat Zuma omkoopgeld ontvang het.
Squires het in die Schabir Shaik-saak bevind die staat was reg deur aan te voer dat Shaik, Zuma se voormalige finansiële adviseur, die Thales-omkopery van Zuma gefasiliteer het.
Hy het bevind dat Zuma ingestem het om R500 000 per jaar te ontvang in ruil vir die beskerming van Thales (toe Thomson CSF) teen 'n wapenondersoek en die bevordering van dié maatskappy se belange in Suid-Afrika.
Zuma het nog altyd ontken dat hy omgekoop is.
Mnr. Johan van der Walt, forensiese ouditeur van KPMG wat die geldspoor moes volg, het in die Shaik-saak getuig dat R250 000 deur Thales aan Kobitech, 'n filiaal van Shaik se Nkobi Holdings, betaal is. Volgens hom was dit die omkoopgeld.
Die uiteindelike doel daarvan was om te betaal vir Zuma se Nkandla-ontwikkeling waarvoor hy géén ander finansiering gehad het nie, het Van der Walt getuig.
Squires het dié argument aanvaar en die verweer verwerp dat die R250 000 aan vergoeding deel was van 'n diensverskafferooreenkoms tussen Nkobi en Thales.
In sy nuwe verklaring betrek Du Plooy ook vir Kögl by die omkoopgeld.
Daarluidens is R600 000 deur Kögl aan Standard Bank betaal vir Zuma se huisverband op dieselfde dag dat Shaik amptenare van Thales in Mauritius ontmoet het om die "sogenaamde diensverskafferooreenkoms" op te stel.
Volgens Du Plooy is dit "noemenswaardig" dat die Kögl-betaling en Shaik se geldsoekery by Thales gebeur het toe Zuma dringend geld nodig gehad het.
"Die toevalligheid van die datum is verstommend en daar is weer eens 'n redelike gevolgtrekking te maak dat die Kögl-betalings verwant is aan Thales," lui die verklaring.
Die Skerpioene is in besit van 'n dokument gedateer 17 Mei 1999 wat aandui dat Kögl in daardie stadium Thales se verteenwoordiger in Suid-Afrika was. Volgens Du Plooy is dit "veelseggend".
Met erkenning aan Die Burger.