Publication: Rapport Date: 2005-10-16 Reporter: : Lizel Steenkamp Reporter:

TV-Program Kan Help in Kebble-Moordsaak

 

Publication 

Rapport

Date

2005-10-16

Reporter

Lizel Steenkamp

Web Link

www.news24.com

 

'Hy't geweet hy is 'n doring in hul vlees'

'n Dokumentêre reeks waarin die mynmagnaat Brett Kebble omstrede uitlatings maak oor superryk swart sakemanne wat noue bande met die ANC het, maak deel uit van die polisie se ondersoek om die raaisel om Kebble se moord te ontrafel.

Die Johannesburgse eenheid teen ernstige geweldmisdaad het 'n kopie van dié dokumentêre program, getiteld The Zuma Media Trial , in sy besit. Dit handel oor 'n beweerde "sameswering" in die ANC om van oud-adj.pres. Jacob Zuma ontslae te raak, asook hoe superryk swart sakemanne hul "vriende" in hoë poste in die ANC glo sou gebruik om hul politieke en ekonomiese belange te beskerm.

Verskeie mense, onder wie oudpres. Nelson Mandela; Patricia de Lille, OD-leier; mnr. Pierre Moynot, hoof van die wapenonderneming Thint; Zuma; Kebble; en ondersoekende joernaliste en redakteurs verskyn in die dokumentêre program.

In die reeks word onder meer verwys na 'n "elite"-groep binne die ANC wat wil sorg dat die politieke mag "in die hande van die regte ANC-faksie" bly. Niemand behalwe Kebble was egter bereid om die name van die sogenaamde groot rolspelers te noem nie.

Sy lyk met minstens vyf koeëlwonde is op 27 September net ná 21:00 agter die stuurwiel van sy luukse Sklas-Mercedes-Benz in Johannesburg gevind.

Supt. Chris Wilken, polisiewoordvoerder, het gister bevestig die polisie het onlangs 'n kopie van die program ontvang. "Ons is in die besit daarvan en dit maak deel uit van ons ondersoek."

Me. Liesl Göttert , regisseur en vervaardiger van die dokumentêre program, het 26 maande gelede aan die projek begin werk. Sy het 'n paar weke voordat Kebble vermoor is vir hom 'n afdruk daarvan gegee.

"Hy was bekommerd oor mý veiligheid, maar het voorheen ook aan my gesê hy weet hy is 'n doring in hul vlees. Ek dink hy was net té uitgesproke en dis hoekom hy vermoor is."

Die program is byna gereed vir verspreiding en televisiekanale in Londen, Duitsland en Frankryk stel belang.

Mnr. Guy Kebble sê hy is bewus van die program waarin sy broer verskyn, maar hy het dit nog nie self gesien nie. "Ek weet of dit die polisie kan help nie. Al wat ek weet, is dit was beslis nie 'n kaping wat skeefgeloop het nie. Jy pomp nie 'n paar koeëls in 'n ou en vat dan niks nie. Die waarheid sal wel een of ander tyd uitkom."

Oudregter Willem Heath, wat ook in die program verskyn, het aan Rapport gesê "dis nie onmoontlik" dat dit die polisie-ondersoek kan help nie. "Die vraag is of iemand van Brett ontslae wou raak oor wat hy in die program gesê het. Dis onwaarskynlik, want die program is reeds voltooi."

Heath het aan Rapport gesê hy is steeds deel van die onafhanklike ondersoekspan.

Kebble sê prontuit in die dokumentêr "dit is op die elite-groep in die ANC se agenda om Zuma uit die pad te kry sodat iemand anders (van hul keuse en wat hul ekonomiese belange kan beskerm) daardie leemte kan vul".

Hy beweer die "progressiewe elite" het die Skerpioene sedert 2001 "gebruik" om Zuma in 'n posisie te plaas "wat hom sal dwing om te bedank".

Kebble noem die naam van 'n vooraanstaande sakeman wat glo teenoor hom genoem het dat hy "ambisies" het om die land se volgende president te word. Hy verwys ook na "partytjies op Vrydagaande waar uitgesoekte gaste dronk word en waarheen minderjarige meisies gebring word".

Volgens hom "jag" dié groep in 'n "trop" en is hulle nie ingestel op swart bemagting vir die massas nie, maar stel hulle net belang in selfverryking en die verryking van hul vriende.

• Besoek die webblad www.zumamediatrial.com vir nader besonderhede oor die dokumentêr.

Mnr. Pierre Moynot is uitvoerende hoof van Thomson-CSF se SuidAfrikaanse filiaal, Thint.

Oudpres. Nelson Mandela verskyn ook in die dokumentêr The Zuma Media Trial .

Me. Patricia de Lille, leier van die OD, is een van die bekendes wat in die dokumentêr verskyn.

Mnr. Brett Kebble, mynmagnaat, is op 27 September in sy luukse motor in Johannesburg doodgeskiet.

Met erkenning aan Lizel Steenkamp en Rapport.