Publication: Die Burger Date: 2005-10-26 Reporter: Willem Jordaan Reporter:

Zuma-Sage Los 'n Spoor van Verwoesting

 

Publication 

Die Burger

Date

2005-10-26

Reporter

Willem Jordaan

Web Link

www.news24.com

 

Die lysie politieke slagoffers in die ontvouende stryd tussen die Zuma-kamp en die Mbeki-kamp is nou vinnig aan die groei.

Verlede week het mnr. Billy Masetlha, direkteur-generaal van intelligensie, en twee van sy ondergeskiktes gesneuwel. Mnr. Ronnie Kasrils, minister van die intelligensiedienste, het Masetlha, sy adjunk, mnr. Gibson Njenje, en die hoofbestuurder, mnr. Bob Mhlanga, almal geskors.

Dié koppe van dié drie, wat glo in die slagordes van die Zuma-kamp geveg het, het gewaai nadat hulle glo onwettig 'n ondersoek gedoen het na mnr. Saki Macozoma, 'n vertroueling van pres. Thabo Mbeki wat al as 'n moontlike opvolger vir die president genoem is.

Hulle is egter nie die eerste slagoffers in die ANC se interne twis nie. Om die geheue 'n bietjie te verfris: Reeds in 2003 was dr. Penuell Maduna, voormalige minister van justisie, se verrassende aankondiging dat hy nie weer in die kabinet wil dien nie 'n klinkklare aanduiding dat die twis tussen die twee kampe weer sou oorkook en op ander gebiede sou uitkring.

Maduna was die minister verantwoordelik vir die Skerpioene, wat besig was om Zuma te ondersoek. Daarom het Zuma by Maduna gekla oor die objektiwiteit van adv. Bulelani Ngcuka, die Skerpioene se destydse opperhoof, maar kort daarna het Maduna en Ngcuka daardie berugte perskonferensie gehou waarop aangekondig is dat Zuma vir eers nie vervolg word nie, selfs al is daar prima facie-bewyse teen hom.

Van toe af was Maduna saam met Ngcuka in Zuma se spervuur. Nadat Ngcuka aantygings uit die Zuma-kamp dat hy 'n apartheidspioen was en die Hefer-kommissie oorleef het, het hy die volgende slagoffer van die twis geword toe hy verlede jaar bedank het.

Dan is daar natuurlik mnr. Mac Maharaj, ook 'n meeloper van Zuma en 'n sentrale figuur in die spioenbewerings teen Ngcuka, wat moes bedank as direkteur van FirstRand te midde van bewerings dat hy geskenke ontvang het wat nooit aan die parlement verklaar is nie.

Uiteindelik het Zuma se vriend en finansiële adviseur, mnr. Schabir Shaik, nog 'n naam op die lys geword toe die hooggeregshof hom aan korrupsie skuldig bevind het.

Meer onlangs is daar sprake dat wyle mnr. Brett Kebble, 'n prominente ondersteuner van Zuma wat onlangs doodgeskiet is, dalk meer oor die interne twis sou kon vertel. Sy volle verhaal sal egter nooit gehoor word nie.

Tel jy hierby die figure wat op die periferie van die stryd gesneuwel het - mense soos oudregter Willem Heath, dr. Gavin Woods, IVP-LP en voormalige voorsitter van Skoor, en mnr. Andrew Feinstein, die ANC-LP wat destyds uit Skoor gewerk is en sedertdien die land verlaat het - raak die lys ál langer.

Die spoor van verwoesting wat die ANC se interne twis reeds gelaat het, laat mens wonder wie volgende is namate die twee kampe se slagordes uitkristalliseer.

Te midde van die hoë risikos waarmee die stryd gepaardgaan, was kabinetslede en ANC-hoës tot dusver huiwerig om openlik hul steun agter óf Mbeki óf Zuma in te gooi. Diegene wat wel agteraf gepraat het, pas hul uitlatings gerieflik aan na gelang van die geselskap waarin hulle verkeer. Twee duidelike neigings begin egter nou vorm aanneem.

Op kabinetsvlak het Mbeki ongetwyfeld steeds die hef in die hand en ofskoon daar fluisteringe bestaan dat enkele kabinetsministers na die Zuma-kamp begin oorleun, is daar ook diegene wat sê dié gerugte oor mense soos me. Brigitte Mabandla van justisie en mnr. Charles Nqakula van veiligheid en sekuriteit is bloot pogings van die Zuma-kamp om verdeeldheid te saai waar dit nie bestaan nie. Die meeste kabinetsministers speel tot dusver veilig en trap suutjies om nóg Mbeki nóg Zuma in die verleentheid te stel deur regstreeks by die stryd betrokke te raak.

In die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) is die verdelings duideliker en die ooglopende Zuma-ondersteuners (of dan die Mbeki-vyande) talryker. Hier sit mense soos mnr. Fikile Mbalula, voorsitter van die ANC-jeugliga, wat geen geheim van sy steun vir Zuma maak nie.

Kom ons waag 'n raaiskoot: Verplig jy die lede van die ANC se NUK vandag om aan te dui waar hul diepste lojaliteite lê, gaan 65% waarskynlik hul steun by Mbeki ingooi, 22% by Zuma en 13% sal op die draad sit.

Terwyl Mbeki in die kabinet en in die NUK die hef in die hand het, is Zuma egter besig met 'n volskaalse veldtog om vir homself steun te probeer wen in sy verskynings waar hy en sy ondersteuners allerhande versweë en minder versweë aanvalle op Mbeki doen.

Só kom ANC-hoës - in die kabinet en elders - toenemend onder druk om 'n aanduiding te gee van waar hulle nou eintlik staan.

Doen jy dit, loop jy dalk die gevaar om op die verkeerde perd te wed. Doen jy dit nie, loop jy die gevaar dat ander dalk jou stilte uitbuit en jou werklike of gewaande lojaliteite verdraai.

Verlede week se spioensage en Zuma se voortgesette veldtog om president te word, kan dus nie anders as om 'n verharding in die vyandigheid tussen die twee kampe mee te bring nie. Wanneer die ANC se NUK dus aanstaande maand weer sit, is die kans goed dat oorlogsverklarings dié slag in die lug is.

Willem Jordaan is die politieke beriggewer van Die Burger. Dié rubriek is sy eie mening.

Met erkenning aan Willem Jordaan en Die Burger.