Publication: Rapport Issued: Date: 2005-06-05 Reporter: Pieter Malan Reporter:

Mbeki en die Wapenkontrak

 

Publication 

Rapport

Date

2005-06-05

Reporter

Pieter Malan

Web link

http://152.111.1.251

 

• Nog politici moet verduidelik
• Franse was bang vir ondersoek

Hoewel die gekodeerde faks nie suggereer dat Mbeki omkoopgeld vir steun aanvaar of gevra het nie, maak die brief dit duidelik dat senior politici reeds op 'n vroeë stadium van die wapenaankope by die proses ingemeng het.

Pres. Thabo Mbeki het reeds twee jaar voordat die regering se omstrede wapenkontrakte toegeken is die versekering aan 'n Franse wapenmaatskappy gegee dat hulle 'n deel van die regering se wapenkontrak sal kry.

Dié bewering, wat gedoen word in 'n gekodeerde faks wat die Suid-Afrikaanse hoof van die wapenmaatskappy Thomson-CSF aan sy base in Frankryk gestuur het, beteken adj.pres. Jacob Zuma is nie die enigste senior politikus wat vrae het om te beantwoord oor die transaksies nie.

Hoewel dié gekodeerde faks, anders as in Zuma se geval, nie voorgee dat Mbeki omkoopgeld vir steun aanvaar of gevra het nie, maak die brief dit duidelik dat senior politici hulle reeds in 'n vroeë stadium van die wapenaankope in die proses ingemeng het.

Die dokument wat na Mbeki verwys, is 'n vertaling van 'n gekodeerde faks wat in November 1997 deur mnr. Pierre Moynot, Thomson-CSF se Suid-Afrikanse verteenwoordiger, aan sy base in Frankryk gestuur is.

Thomson-CSF (SA) is die maatskappy waarin mnr. Schabir Shaik 'n aandeel het en die maatskappy wat uiteindelik een van die subkontrakte vir die vloot se korvette gekry het.

Die brief wat na Mbeki verwys, maak deel uit van die duisende bladsye bewysstukke wat die laaste paar maande in die verhoor van Shaik gebruik is, maar het nooit in die hof ter sprake gekom nie.

In die brief maak Moynot melding van 'n vergadering wat hy gehou het met "die persoon wat verantwoordelik is vir die kortlys" (van moontlike tenderaars vir die wapentuig) en verwys vermoedelik na Schabir Shaik se broer Chippy, wat in daardie stadium hoof van verkryging in die departement van verdediging was.

In die faks is 'n gesprek tussen Moynot en dié persoon uiteengesit en is afgesluit met die woorde: "Later het hy weer gesê hy het die versekering van die adjunkpresident gekry dat ons die kontrak vir die wapenstelsel en die sensors sal kry."

Mbeki was ten tyde van die skrywe nog adjunkpresident in pres. Nelson Mandela se kabinet.

Die faks is afgesluit met die woorde: "My gevoel is dat ons vriend baie betroubaar is en ek glo dat in 'n poging om die (kontrak vir die) wapenstelsel en sensors te verseker, Jean-Pierre Perrier (sic - Jean-Paul) 'n besoek met die adjunkpresident moet reël."

Verskeie ander dokumente in die Shaik-saak dui daarop dat senior amptenare van Thomson Mbeki verskeie kere ontmoet en onder meer sy raad gevra het oor die wenslikheid van Schabir Shaik as beleggingsvennoot.

In 'n brief wat die Franse in Desember 1998 via me. Barbara Masakela, Suid-Afrika se destydse ambassadeur in Frankryk, aan Mbeki gestuur het, vra die Franse vir Mbeki of dit " 'n goeie besluit" is om Schabir Shaik se Nkobi-groep as hul swartbemagtigingsvennoot te aanvaar.

Die dokumente en die verwysing dat Mbeki reeds sy seën uitgespreek het oor die Franse se poging om deel van die winsgewende wapenkontrakte te wees nog voordat die tenders geëvalueer is, beantwoord een van die tergendste vrae van die afgelope Shaik-verhoor.

Waarom was die Franse bang vir die wapenondersoek? Wat het hulle gehad om weg te steek?

Al is in die verhoor in detail uitgestippel hoe Shaik die omkoopgeld van R500 000 per jaar vir Zuma beding het en hoe die geld uiteindelik gebruik is om Zuma se skuld te betaal, is hierdie vrae nooit beantwoord nie.

Bogenoemde faks en ander dokumente wat op vergaderings tussen Mbeki en die Franse dui nog voordat die tender toegeken is, dui egter daarop dat Mbeki moontlik 'n groot rol gespeel het om te verseker dat die Franse die kontrak kry en dat die proses dus nie regverdig teenoor ander tenderaars was nie.

Dit is dus hierdie ontmoetings en vergaderings en ondernemings wat agter geslote deure gegee is wat die Franse tot elke prys uit die openbare oog wou hou.

Met erkenning aan Pieter Malan en Rapport.