Publication: Beeld Issued: Date: 2006-09-28 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Shaik Hoor Dalk Hou Oor Appèlle

 

Publication 

Beeld

Date 2006-09-28

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com/Beeld

 

Bloemfontein. - Schabir Shaik behoort voor die einde van die jaar te weet of hy by die Westville-gevangenis in Durban moet aanmeld.

Shaik se appèlsaak teen sy drie skuldigbevindings, vonnisse en batebeslaglegging het gister ten einde geloop.

'n Volbank appèlhofregters het uitspraak voorbehou, maar regskenners verwag dat mnr. Jacob Zuma se voormalige finansiële adviseur voor die einde van die jaar sal weet wat sy lot is.

Shaik is op 2 Junie verlede jaar deur regter Hilary Squires in die Durbanse hooggeregshof skuldig bevind op aanklagte van korrupsie en bedrog.

Die twee korrupsieklagte betrek Zuma ten nouste en pres. Thabo Mbeki het hom op sterkte van Squires se uitspraak van sy pligte as adjunkpresident van die land onthef.

Kort daarna het adv. Vusi Pikoli, direkteur van openbare vervolging, aangekondig hy gaan Zuma van korrupsie aankla. Die saak teen Zuma is verlede week deur regter Herbert Msimang van die Pietermaritzburgse hooggeregshof se hofrol geskrap nadat hy bevind het Zuma word "sosiaal benadeel" weens die staat se onvermoë om met sy saak te begin.

Die Shaik-appèlhofuitspraak sal 'n direkte impak hê op die staat se saak teen Zuma en, indien hy weer aangekla word, hoe die finale akte van beskuldiging lyk. As die hof Shaik se appèlaansoeke handhaaf, is daar 'n goeie kans dat die staat hul saak teen Zuma sal laat vaar. Die aanklagte teen Zuma is bykans identies as die Shaik-klagstaat en amper ál die bewyse teen Shaik sal die staat ook teen Zuma wil inspan.

As die appèlhof Shaik se appèlle verwerp, en die regsterm "algemeen korrupte verhouding" bekragtig, sal dit as ekstra motivering vir adv. Billy Downer, SC, en sy span dien om Zuma weer aan te kla.

Downer en sy mede-aanklaers, advv. Anton Steynberg en George Baloyi, het gister ontspanne en vol vertroue voorgekom toe regter Craig Howe, president van die appèlhof, die saak verdaag het.

Uit die regters se reaksie die afgelope drie dae was dit duidelik hul grootste vrae bestaan oor aanklag 3 - dat Shaik omkoopgeld vir Zuma van die Franse wapenfirma Thint gereël het. Regter Piet Streicher het bly hamer op die feit dat daar geen bewyse is nie dat Zuma gewéét het hy stem in tot omkoopgeld toe hy, luidens die berugte "omkoopfaks'', 'n kode aan die Franse en Shaik verskaf het op 'n vergadering in 2000.

Downer het die regters gevra om nie na getuienis in afsondering te kyk nie, maar as 'n geheel.


Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.