Regter In Basson-Saak Verhoor Dalk Zuma |
Publication | Die Burger |
Date |
2006-02-21 |
Reporter |
Waldimar Pelser |
Web Link |
Johannesburg – Die lotsbepaler van mnr. Jacob Zuma (klag: verkragting) en dr. Wouter Basson (klag: apartheidsmisdade) is dalk dieselfde man.
Hoewel geen besluit nog geneem is oor wie die hoogs sensitiewe Zuma verkragsaak gaan hanteer nie, het wenkbroue gister reeds gelig oor die boonste naam in die hoed – regter Willie Hartzenberg.
Hartzenberg is op openbare verhoë verguis en in die konstitusionele hof vir “foute” gekap nadat hy Basson vrygespreek het op ses aanklagte wat met die pleeg van apartheidsmisdade buite die landsgrense verband hou.
Hy was ook verlede jaar op die kortlys om adjunk-regterpresident van Transvaal te word.
Sy naam is in die Zuma-hoed nadat beide regterpresident Bernard Ngoepe en een van sy adjunkte, regter Phineas Mojapelo, hulle aan die saak onttrek het.
Dit is ook te betwyfel of regter Jerry Shongwe, wat die derde plek op die afdeling se senioriteitslys beklee, die saak sal pak weens sy verwantskap met Zuma.
Zuma is die pa van Shongwe se susterskind.
Op die lys is Hartzenberg nommer vier. Ngoepe het vroeër gesê senioriteit sal swaar weeg wanneer die Zuma regter gekies word.
Prof. Shadrack Gutto van Unisa se sentrum vir Afrika-renaissance-studies en raadgewer aan die minister van justisie, me. Brigitte Mabandla, het gister aan Die Burger gesê as Hartzenberg die man is, “sal die wenkbroue lig”.
Dit is ook onvanpas dat ’n besluit oor die regter bloot op grond van senioriteit geneem word.
“Ek het al ernstige vrae gevra oor hoe Hartzenberg die Wouter Basson-saak hanteer het, wat ek dink vooroordeel en ’n voorliefde vir ou regsparadigmas gewys het.
“Hy het ’n paar foute gemaak oor wat die wet in Suid-Afrika is, en daarom glo ek wenkbroue sal lig oor hom, nie soseer omdat hy wit is nie, maar weens sy rekord.”
Gutto glo ’n regter se persoonlike geskiedenis moet van sy rekord op die regbank onderskei word, maar “albei is relevant”.
Deur te sê senioriteit weeg swaar in die Zuma-saak het Ngoepe vir hom straks ’n te “rigiede reël” geskep.
“Dit is nie wat die wet voorskryf nie. Dit is eenvoudig ’n tradisie en praktyk in die Pretoriase hof.”
Enige “vaardige” regter moet die saak kan aanhoor, selfs al is sy relatief junior, slegs waarnemend, of kom sy van buite, sê Gutto.
Volgens inligting is Hartzenberg nie oorgretig om die saak te behartig nie, berig Pieter du Toit.
Ondanks kritiek in die Basson-saak sou hy die Zuma-saak egter “kon oorweeg as ’n laaste verpligting teenoor die regbank voordat hy uittree,” het ’n bron gesê.
Dieselfde goedgeplaaste bron sê die name van regters W.J. van der Merwe en John Motata word genoem. Van der Merwe is naas Hartzenberg die mees senior regter terwyl Motata as ervare beskou word.
“Dit is al (in regterskringe) gesê dat dit byna onmoontlik sal wees vir ’n wit regter om die saak te aanvaar. Die probleem is egter dat daar nie ’n swart regter is wat meer senior as die ander kandidate (Hartzenberg en Van der Merwe) is nie.”
With acknowledgement to Die Burger and Waldimar Pelser.