Lekota Kry Drag Slae in Hof oor Wapendokumente |
Publication | Die Burger |
Date |
2006-02-11 |
Reporter |
Erika Gibson |
Web Link |
PRETORIA.
– Mnr. Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, is gister ’n bloedneus gegee *1 in sy uitgerekte hofstryd met dr.
Richard Young om sekere dokumente oor Suid-Afrika se omstrede
multimiljardrand-wapentransaksies aan Young te oorhandig.
Lekota se
aansoek om kondonasie vir die laat indien van sy aansoek om verlof tot appèl,
sowel as sy appèlaansoek, is met koste deur regter Brian Southwood in die
Pretoriase hooggeregshof van die hand gewys.
Ál opsie wat nou vir Lekota
oorbly, is om ’n petisie aan die appèlhof te rig *2.
Young se aansoek strek reeds oor sowat twee jaar nadat hy in dié hof aansoek
gedoen het om toegang te verkry tot die dokumentasie.
Young het in die
wapentransaksies – spesifiek die vloot se fregat-tenders – nié ’n kontrak van
R150 miljoen vir die installering van inligtingbestuurstelsels op die fregatte
gekry nie.
Southwood het hom gister skerp
uitgespreek oor Lekota se aansoeke, nadat Southwood reeds op 15 April
verlede jaar bevind het die dokumente moet binne twee maande aan Young oorhandig
word.
Kort ná dié uitspraak het die weermag se stafraad besluit om nié
teen Southwood se beslissing te appelleer nie. Die departement van verdediging
het aanvanklik versoek dat dié tydperk te kort was en om uitstel gevra. Dit is toegestaan. Die departement het geen aanduiding
gegee dat daar enige appèlaansoek oorweeg word nie.
Sowat twee maande ná
die aanvanklike uitspraak is Young ingelig dat mnr. January Masilela, sekretaris
van verdediging, ná verdere oorweging besluit het om wél om verlof tot appèl
aansoek te doen.
Masilela was glo op reis na China en Maleisië en kon
daarom nie vroeër die saak oorweeg het nie. Hy het besluit die openbaarmaking
van die dokumente hou verreikende gevolge in vir Suid-Afrika se internasionale
en handelsbetrekkinge, asook die wapenbedryf in die algemeen.
Masilela
het ook gemeen die weermagstafraad het sy besluit oorhaastig geneem. Hy, in
oorleg met Lekota, het vervolgens besluit om te appelleer, al het maande reeds
verbygegaan sonder dat só ’n voorneme aan Young genoem is.
Dit is waarom
vandeesweek se aansoek eerstens om kondonasie was om dié versuim tersyde te stel
en tweedens om verlof tot appèl te versoek. Southwood het bevind dat Masilela se
verduideliking vir die vertraging nie steek hou
nie.
Masilela se verweer dat hy ook nie betyds toegang tot ’n
staatsadvokaat kon kry nie, is volgens Southwood geen
verskoning nie. Ook nie sy verweer dat hy nie
betyds tot sommige van die hofstukke toegang kon kry nie, aangesien die saak
reeds maande aan die gang is.
Met erkenning aan Erika Gibson en Die Burger.