Publication: Beeld Issued: Date: 2006-09-28 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Só word Hy Dubbel Gestraf, sê Schabir oor Batebeslaglegging

 

Publication 

Beeld

Date 2006-09-28

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com/Beeld

 

Bloemfontein. - Mnr. Jacob Zuma was Schabir Shaik se "plaaslike beroemde" wat hy "uitgebuit" het om homself te verryk.

Só het adv. Wim Trengove, SC, gister namens die nasionale vervolgingsgesag (NV) se batebeslagleggingseenheid (AFU) in die appèlhof geargumenteer.

Shaik appelleer teen regter Hilary Squires se beslagleggingsbevel dat die AFU beheer mag neem van sy bates ter waarde van R34,3 miljoen.

As Shaik se appèlle teen sy skuldigbevindings slaag, val die AFU-bevel weg, maar as hy tronk toe moet gaan, sê Shaik word hy "dubbel" gestraf deurdat die staat ook sy bates wegvat.

Adv. Francois van Zyl, SC, namens Shaik, het die volbank appèlhofregters gister daarop gewys dat die doel van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) nie is om die staat te verryk nie, maar om 'n veroordeelde te ontneem van sy "onwettig verkrygde goedere".

Van Zyl het aangevoer dat die staat nie tesame met Shaik se 20% aandeelhouding in African Defence Systems (ADS) van R21 miljoen, óók geregtig is op die dividende van R12,7 miljoen wat hy daaruit verdien het nie.

Volgens Van Zyl moet die R8 miljoen kapitaal plus rente wat Shaik vir sy ADS-aandele betaal het, van die dividende afgetrek word. Dan bly R307 000 oor.

Trengove verskil en het die voorbeeld gebruik van 'n dwelmhandelaar wat sê die staat mag nie die waarde van sy dwelms ook vat nie. Daar moet op die bruto opbrengste gefokus word, nié die netto winste nie.

Volgens Trengove het Shaik sy aandeelhouding in ADS nie net bekom deur Zuma se ingryping nie, maar ook deur Zuma as "verkoopspunt" (selling point) te gebruik.

"Shaik het aanhoudend die Zuma-stok geswaai."

'n Brief deur Shaik aan mnr. Jean-Paul Perrier van Thales, waarin hy 'n dringende vergadering tussen Zuma en dié wapenfirma se base versoek, is volgens Trengove "merkwaardig".

Dít was nadat Shaik te hore gekom het van 'n gerug dat hy deur sommige ANC-hoës as 'n ongeskikte swart bemagtigingsvennoot beskou word en uit die wapentransaksie geskop sou word.

"Wat sê Shaik met hierdie brief? Ons plaaslike beroemde, die vreeslike magtige Jacob Zuma, wil met julle vergader.

"Dit was 'n kru misbruik van hul korrupte verhouding," het Trengove gesê.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.