E-Steun vir Zuma-Klaagster |
Publication | Die Burger |
Date |
2006-02-24 |
Reporter |
Lucia Swart |
Web Link |
Johannesburg. – Die ondersteuners van die klaagster in die verkragtingsaak teen mnr. Jacob Zuma het hulle nou óók – soos Zuma se vriende – tot die internet gewend om steun vir haar te kry.
Verskeie invloedryke geslagsgelykheidsgroepe, onder leiding van People Opposing Women Abuse (Powa), het vandeesweek ’n veldtog van stapel gestuur wat geïnspireer is deur die Zuma-klaer, maar ook in die toekoms ondersteuning vir verkragting slagoffers sal bied.
Die Een uit Nege-ondersteuningsgroep het ’n webwerf (www.oneinnine.org.za) en beplan om só ondersteuning vir “Khwezi” te mobiliseer wanneer Zuma aanstaande Maandag in die Johannesburgse hooggeregshof op aanklagte van verkragting verskyn.
Khwezi, wat “ster” in Zoeloe beteken, is as skuilnaam vir die klaagster gekies omdat sy ’n “dapper vrou is wat lig in haar lewe gebring het omdat sy nie stilgebly het nie”.
“Ons kan nie haar naam gebruik nie, maar nou hét sy darem een,” het me. Carrie Shelver, Powa-woordvoerder gesê.
Die naam Een uit Nege is afgelei van die statistiek dat minder as een uit nege Suid-Afrikaanse vroue wat verkrag is, dit by die polisie aanmeld.
Hul webwerf pryk in helder- pers op die internet en bied nuuskieriges inligting oor die verkragtingsaak. Dit is ook ’n nuttige hulpbron vir mense wat wil lees oor die ervarings van vroue wat verkrag is en hulp vir slagoffers.
“Ons het die idee gekry met Zuma se verskyning in die hof, maar ons het ook die nood raakgesien onder vroue wat verkrag of mishandel is. Die webwerf is dus nie net vir Khwezi nie, maar vir álle vroue,” het Shelver gesê.
Op die webwerf kan ondersteuners boodskappe aan Khwezi stuur, net soos Zuma se vriende daagliks op hul webwerf (www.friendsofjz.co.za) doen.
“Khwezi, jy is ’n sterk en dapper vrou (omdat) jy opstaan vir jou regte en die regte van alle vroue in Suid-Afrika. Jy staan nie alleen nie,” lui een van die boodskappe wat ene Vicci reeds op die webblad geskryf het.
Volgens Shelver het minstens 20 ander nieregeringsorganisasies (NRO’s) reeds laat blyk dat hulle ook deel van die veldtog wil word. “Dit gaan beslis groei. Ons het nog baie planne.”
Hulle beplan om as die saak hervat daagliks opsommings van die dag se gebeure op die webwerf te publiseer.
With acknowledgement to Die Burger and Lucia Swart.