Publication: Rapport Date: 2006-01-15 Reporter: Elise-Marie Tancred Reporter:

Shaik Het Dalk Oor Robin Gelieg

 

Publication 

Rapport

Date

2006-01-15

Reporter

Elise-Marie Tancred

 

"Schabir Shaik is die grootste leuenaar wat ek ken. Dit is moontlik dat hy ook oor Robin gelieg het - dat sy mnr. Jacob Zuma nooit gunsies bewys het nie. Hy het altyd grootgepraat en dinge gesê om ons te beindruk."

In 'n telefoniese onderhoud Donderdag met Rapport het mnr. Sabeer Sheik-Ibrahim, voormalige direkteur van Nkobi Tech Transport Systems, vir die eerste keer openhartig gepraat oor die beeldskone jong vrou wat deur Schabir Shaik betaal is om die voormalige adjunkpresident, mnr. Jacob Zuma, "te bedien".

Ibrahim het te kenne gegee dat die getuienis wat hy in Oktober 2003 voor die Skerpioene afgelê het as deel van die eenheid se ondersoek na die wapentransaksie "meestal akkuraat" is, maar dat daar ook "'n paar teenstrydighede is".

Volgens die getranskribeerde weergawe van Ibrahim se getuienis het Shaik Robin maandeliks tot R30 000 betaal om na die voormalige adjunkpresident "om te sien" en hom "te vermaak".

Luidens die dokument het Shaik gereeld voor Ibrahim met Zuma oor die luidsprekerfoon gepraat en selfs by geleentheid oor die jong vrou se dienste gespog.

"Hy het gesê sy is Zuma se pomp," lui die dokument.

Ibrahim het nie ontken dat hy die woorde kon gebruik het nie.

Ibrahim wat deesdae as konsultant vir 'n Oostenrykse maatskappy werk, woon hoofsaaklik in die buiteland en was op besoek aan familie in Suid-Afrika.

Volgens hom het die Skerpioene se ondersoeker sekere vrae aan hom gestel waarop hy so eerlik moontlik geantwoord het.

"In my antwoorde het ek bloot herhaal wat Schabir voor my en ander mense in sy kantoor gesê het," het Ibrahim gesê.

"Ek het nooit 'n afskrif van my getuienis gekry of enige dokument onderteken nie. Dit was amper drie jaar gelede, ek kan nie al die besonderhede van my getuienis onthou nie" het hy gereageer op die bewoording in die dokument.

Volgens Ibrahim "voel hy baie jammer" vir Robin "'n beeldskone bruin vrou van iets in die twintig".

"Ek het geen kontak meer met haar nie, maar sy was altyd 'n ware dame, goed versorg en goed gemanierd. Sy het nooit vir my na iemand gelyk wat sulke goed sou doen nie. Dit het my geskok."

Ibrahim het bevestig dat Shaik blykbaar vir haar "studie in die buiteland" betaal het.

Hy weet nie watter soort verhouding daar tussen Robin en Shaik bestaan het nie, behalwe dit wat Shaik aan hom gesê het.

Tydens Shaik se wapenskandaalsaak verlede jaar het dit vir Ibrahim duidelik geword dat hy oor baie goed gejok het.

"As ek nou daaraan terugdink, is dit ook moontlik dat hy oor Robin kon gelieg het."

Ibrahim, wat by Nkobi Holdings bedank het, beweer Shaik skuld hom 'n aansienlike bedrag geld en aandele. "Dit is tussen ons prokureurs."

Shaik, wat verlede jaar skuldig bevind is aan korrupsie en bedrog, is tans op borgtog hangende 'n appel. Hy het spesiale toestemming gekry om vanjaar as pelgrim na Mekka te reis - waar hy teen druktyd nog was.

Zuma het verlede jaar onken dat hy ooit vir "Robin" ontmoet het.

Luidens Ibrahim se getuienis is sy nou getroud, het sy 'n kind en woon sy in Nederland. Sy was nie vir kommentaar bereikbaar nie.

With acknowledgements toElise-Marie Tancred and Rapport.