Publication: Die Burger Date: 2006-02-17 Reporter: Reporter: Reporter:

Verhoor Deur die Gepeupel

 

Publication 

Die Burger

Date

2006-02-17

Web Link

 

Vir hierdie groep van sowat 4 000 mense is Zuma onskuldig op die aanklag van verkragting en sy ’n verraderlike leue?naar wat daarop uit is om Zuma se geloofwaardigheid te ondermyn.

Hier is geen sprake van onskuldig totdat sy skuldig bevind is nie.

Voordat sy nog verhoor is, word die vonnis sommer buite die hof voltrek deur ’n onskuldige vrou wat vir die slagoffer aangesien word, met klippe te bestook.

Die eerste vraag wat ons moet vra, is of hierdie hofsaak enigsins vry en regverdig kan verloop met ’n gepeupel wat toi-toi voor die hof, gedrag waarin hulle ondersteun word deur die beskuldigde, Jacob Zuma. Terwyl hy vra vir selfbeheersing, neem hy uitdagend aan hierdie politieke spektakel deel en vra nie sy volgelinge om te verdaag sodat die hofsaak sy loop kan neem nie.

DIE een kernbeginsel van demokrasie is die skeiding van magte tussen die wetgewende, die uitvoerende (kabinet) en die regsplegende gesag. As die skeiding tussen hierdie drie magte ondermyn word, word demokrasie bedreig. Jacob Zuma, wat eens die naasmagtigste politieke pos in die land beklee het, weet dit, maar hy stel sy eie vertoon van mag bo demokrasie. ’n Mens moet ook die vraag vra of ons hier ’n vertoning van etniese solidariteit sien as ons moet oordeel aan die T-hemde wat lui “100% Zulu boy”, ensovoorts? Dus: die drie-eenheid van patriargie, mag en etnisiteit. Hierdie merkers van identiteit vorm die inhoud van die foto’s wat voor die hof geneem is.

En dit is hierdie onheilige drie-eenheid wat die lot van die slagoffer gaan bepaal, asook ook die erns waarmee die burgers van Suid-Afrika geslagsgebaseerde geweld in in die toekoms gaan bejeën. Baie (miskien die meeste) mense wat voor die hof saamdom, is vroue wat al klaar die klaagster veroordeel het. Hoe is dit moontlik dat vroue so kan optree in ’n land met so ’n hoe verkragtingskoers en waar soveel vroue MIV-positief is?

IN hierdie week was daar nog ’n hofsaak van ’n man wat ’n MIV-positiewe vrou verkrag het en haar toe doodgemaak (geskop) het omdat hy ná die verkragting uitgevind het sy was MIV-positief. Argumente word in die hof aangevoer dat hy oningelig was oor antiretrovirale middels en dat hy drank misbruik het op die aand van die voorval. Maar die kern van die saak is dat hy haar VERKRAG het. Daar was nie instemming (consent) van haar kant nie. En sy medepligtige aan haar dood was ’n vrou.

Hoewel lede van People Against Women Abuse (Powa) ook voor die hof waar die Zuma-saak verhoor word, betoog het, was die getalle klein en boonop is hulle geïntimideer. Hoekom was daar so min vroue om Powa te ondersteun?

Die Zuma-verkragtingsaak jukstaponeer mag en geslag in ’n diskoers rondom verkragting waar stereotiepe idees oor vroue se seksualiteit hoogty vier. In die Tim Modise-radioprogram word daar “wyshede” kwytgeraak soos “sy moes geweet het wat met haar sal gebeur as sy na sy (Zuma) se huis toe gegaan het”, “vroue gebruik hul seksualiteit om hul sin te kry”! Hierdie diskoers wys dat die idee van “nee beteken nee” vir baie mense geen betekenis het nie. Dit dui ook daarop dat die idee van instemming misverstaan word – instemming moet by elke geleentheid van seksuele omgang tussen twee mense weer gevra en verkry word (al was daar voorheen ’n seksuele verhouding). Dit is hoekom verkragting binne die huwelik nie meer iets is wat onmoontlik is nie, maar iets wat deur die wet strafbaar is.

DIE afwesigheid van solidariteit tussen vroue dui op die afwesigheid van ’n bewussyn oor die impak van geslagsgebaseerde geweld op vroue en op gemeenskappe. Dit dui ook op die internalisering van stereotipes rondom vroue se seksualitieit (vroue is seksobjekte wat daarna soek om verkrag te word) en die ondersteuning van charismatiese politieke leiers teen elke prys.

Maar veel erger is die onderliggende aanname dat verkragting slegs verkragting is as dit deur ’n vreemdeling gepleeg word en as daar ernstige geweld by betrokke was.

Die Zuma-slagoffer word gediskrediteer omdat sy en Zuma vriende was – ’n mens dien nie ’n klag van verkragting teen ’n vriend in nie, veral nie as hy voorheen die adjunkpresident van die land was nie! En op sy heel ergste is daar die interpretasie dat sy slu probeer het om Zuma op lang termyn om die lewe te bring deur hom met die MI-virus te besmet en dat hy eintlik die slagoffer is!

IN die hofsaak sal die verdediging se strategie wees om die slagoffer te diskrediteer deur haar onder kruisverhoor te neem oor haar seksuele geskiedenis en die feit dat sy MIV-positief is. Die getuies wat haar saak steun, sal as onbetroubaar afgemaak word. Van hierdie sekondêre viktimisering sal elke verkragtingslagoffer (oorleweraar) kan getuig.

Maar hierdie slagoffer se hel sal nie hier ophou nie. Buite die hof sal haar lewe nooit weer veilig wees nie. Die dag toe sy die verkragtingsklag teen Jacob Zuma ingedien het, het haar lewe in werklikheid onherroeplik verander. En dit is die les wat baie ander verkragtingslagoffers gaan leer, veral as daar mans in posisies van mag betrokke is: hou jou mond, moenie eers probeer om ’n hofsaak te maak nie.

Nog ’n les is dat mans se seksuele oordaad, wat baie verskillende “partners” insluit, genormaliseer word, veral as hulle kan argumenteer dat sekere optrede in hul “kultuur” aanvaarbaar is. Dit plaas die kwessie van universele menseregte in stryd met kultuur, iets wat moeilik in hofsake hanteerbaar is.

Aan die kern van die probleem is die konstruksie van manlikheid – wat dit beteken om ’n ware man te wees. Is die konstruksie een van manlikheid wat weerspieël word deur krag, deur nooit terug te deins nie, deur op te eis wat hom toekom, om nie bang te wees om geweld te gebruik nie? Of is dit ’n konstruksie wat aanvaar dat vroue ook besluit?nemingsmag het, dat konsensus tussen mans en vroue bereik moet word oor hoe hulle hul seksualiteit wil bedryf, wat vrae vra en antwoorde verwag? In transisionele demokratiese samelewings waar menseregtehandveste die deur vir vroue oopgemaak het om hul regte te eis, is die patriargale “backlash” op sy hewigste. En die Zuma-verkragtingsaak is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Die optrede van sommige Suid-Afrikaanse burgers in die lig van hierdie hofsaak voorspel niks goeds vir demokrasie of geslagsgelykheid nie.

Elke keer wat ’n verkragtingslagoffer geregtigheid geweier word, kry demokrasie nog ’n krakie by.

Die skrywer is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Die optrede van sommige Suid-Afrikaners in die lig van hierdie hofsaak voorspel niks goeds vir demokrasie of geslagsgelykheid nie.

With acknowledgement to Die Burger.