Shaik van Miljoene Gestroop |
Publication | Die Burger |
Date |
2006-02-01 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
Durban.
– “Ek is nou die slagoffer in Thabo Mbeki en Jacob Zuma se
politieke geveg.”
Só het ’n gebroke Schabir Shaik gister gesê
nadat die Durbanse hooggeregshof beslis het die staat is daarop geregtig om
beslag te lê op Shaik se bates ter waarde van R34 miljoen.
Shaik het
gister vir die eerste keer openhartig gepraat ná ’n marathon-regsproses
waartydens hy aan korrupsie en bedrog skuldig bevind is, tot effektief 15 jaar
tronkstraf gevonnis is en nou miljoene rande se bates verloor het.
Regter
Hilary Squires, wat Shaik op 2 Junie verlede jaar op twee aanklagte van
korrupsie en een van bedrog skuldig bevind het, het gister beslis Shaik se
korrupte verhouding met Zuma was R34,3 miljoen werd en dat die staat op elke
sent daarvan geregtig is.
Die uitspraak betrek ook die afgedankte
adjunkpresident véél nouer by die Franse wapenfirma Thales se besluit om Shaik
as sy bemagtigingsvennoot te aanvaar nadat hy die Nkobi-groep oorspronklik as
vennoot uitgeskop het.
Squires het Shaik se argument, dat die hof bevind
het Zuma se “ingryping” om Shaik as vennoot terug te kry was nie onwettig nie,
verwerp en gesê Shaik verstaan sy uitspraak
verkeerd.
Hy het in Junie slegs bevind die staat kon nie bewys dat
Zuma ook in sy hoedanigheid as ANC-adjunkpresident ingegryp het toe hy met die
base van Thales vergader het nie.
Squires gaan dan voort deur te beslis
Shaik het self nie met sy betalings aan Zuma onderskei tussen Zuma se
verskillende poste nie.
“Sy belegging was in die
algehele politieke statuur van sy kliënt.”
Selfs al het die staat
aangevoer dat Shaik die adjunkpresident van die ANC omgekoop het, sou dit steeds
onwettig wees, “veral met inagneming . . . van die oorweldigende politieke
beheer van landsake wat daardie party geniet”.
Shaik
beskuldig Squires daarvan dat gister se uitspraak sy vorige een
weerspreek.
“Eers het hy (Squires) bevind Zuma het niks verkeerds
gedoen deur te praat met die Franse (Thales) nie. Nou verander hy sy besluit en
bevind Zuma skuldig!
“Die regter vergeet ook dat die
Franse eers (oudpres. Nelson) Mandela en (pres. Thabo) Mbeki se hulp gesoek het
en tóé met Zuma gepraat het.” *1
Shaik glo hy het gronde om appèl
aan te teken teen die beslagleggingsbevel en sal die appèlhof binnekort met ’n
aansoek nader.
“Op ’n persoonlike vlak voel ek nou soos die slagoffer in
Mbeki en Zuma se politieke geveg. Waarom word daar stilgebly
oor die ander kontrakte in die wapentransaksie? Dit is nie waarvoor ons
geveg het nie. Ek stem saam dat korrupsie uitgeroei moet word, maar doen dit dan
op ’n oop en deursigtige wyse.”
Shaik het die
beskuldigings van stoere Zuma-ondersteuners soos Cosatu, die ANC-jeugliga en die
SAKP herhaal dat staatsliggame misbruik word om mense aan die “Zuma-kant te
elimineer”.
“Dit is só verkeerd. Die boodskap wat uitgestuur word, is dat
selfs die regbank vir politieke doeleindes misbruik kan word. My lewe gaan aan,
maar hierdie boosheid moet stop *2.”
Shaik se
appèlle teen sy skuldigbevindings word later vanjaar in die appèlhof aangehoor.
With acknowledgements Adriaan Basson and to Die Burger.