Publication: Beeld Issued: Date: 2006-09-26 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Hy Móés Geweet Het, sê Regter Oor Shaik

 

Publication 

Beeld

Date 2006-09-26

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com/Beeld

 

Bloemfontein. - "Shaik móés geweet het."

Dit was gister regter Mahomed Navsa se verdoemende woorde aan adv. Francois van Zyl, SC, nadat Van Zyl die appèlhof daarvan probeer oortuig het sy kliënt het dalk nie bedrog gepleeg nie.

Maar as jou ouditeurs "kreatiewe rekenkunde" pleeg, behoort jy self daarvan te weet.

Shaik is deur regter Hilary Squires daaraan skuldig bevind dat hy sy ouditeurs onregmatig opdrag gegee het om sy private leningsrekenings van R1,2 miljoen af te skryf.

Shaik het beweer dié geld was "ontwikkelingskoste" vir die ID-kaartprojek Prodiba, maar sy getuienis is deur Squires verwerp.

Gister het dit nie veel beter gegaan nie.

Van Zyl se argumente was dat Shaik se ouditeurs "kreatiewe rekeningkunde" gedoen het en daar 'n moontlikheid bestaan dat hy nie geweet het die leningsrekenings is afgeskryf nie.

Mnr. Ahmed Paruk, 'n ouditeur wat die Nkobi-groep se boeke gedoen het, was die enigste getuie in die Shaik-saak wat getuig het oor Shaik se opdrag dat sy skuld by die maatskappy afgeskryf word.

"Hy was nie die beste getuie nie, maar is ondersteun deur ander bewyse," het Van Zyl gesê.

Volgens regter Piet Streicher is die vraag wat sal moet gebeur as dit blyk Shaik het geweet sy leningsrekenings word afgeskryf.

"Hoeveel kreatiewe rekeningkunde kan ouditeurs doen sonder die insette van die persoon wie se rekening afgeskryf word?" wou Navsa weet. "Hierdie kwessies was nie vreemd vir Shaik nie. Hy móés geweet het."

Kort hierna het Van Zyl erken Shaik "is in die moeilikheid" as die hof aanvaar dat hy medepligtig was tot die besluit om sy rekenings af te skryf.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.