Publication: Beeld Issued: Date: 2006-07-04 Reporter: Katrien Smit Reporter:

"My Name is Zuma" en Ek Wil Eis

 

Publication 

Beeld

Date 2006-07-04

Reporter

Katrien Smit

Web Link

www.news24.com

 

Mnr. Jacob Zuma, gewese adjunkpresident, se naamskending-eis teen verskeie media-instellings het van R61 miljoen opgeskuif tot R63 miljoen omdat 'n Johannesburgse radiostasie hom gisteroggend verder "beledig" het.

Dít is glo die grootste eis vir naamskending tot nog toe deur 'n individu in Suid-Afrika se regsgeskiedenis.

Zuma dagvaar media-eienaars, uitgewers, redakteurs, joernaliste, spotprenttekenaars en koerante. Een van die eise teen 'n koerant gaan oor "uitleg-vuilspel".

94.7 Highveld Stereo sou vir R5 miljoen deur Zuma gedagvaar word oor 'n liedjie deur Darren "Whackhead" Simpson, lid van dié radiostasie se Rude Awakening-span (RAW), getiteld "My name is Zuma". Dié lied lewer kommentaar op die Zuma-verkragtingverhoor.

Toe die RAW-span egter wéér die lied speel nadat hulle van die naamskendingklag teen hulle gehoor het, het Zuma besluit om die bedrag teen Highveld Stereo tot R7 miljoen op te stoot.

"Gedurende die program is 'n verhoor tussen hulself (die RAW-span) en mnr. Zuma nagemaak. Die Highveld Stereo-ankeraanbieder, Jeremy Mansfield, het aan die einde van die verhoor beslis die beskuldigde is onskuldig," lui die verklaring deur Zuma se regspan.

Zuma het hierna sy regspan laat weet hy wil hê die eis moet vermeerder word.

"Dit is onaanvaarbaar dat enigiemand sulke minagting vir ons regstelsel kan wys deur 'n hofsitting na te maak en 'n beslissing vooruit te loop en my daardeur net verder te beledig," het Zuma in die verklaring gesê.

Zuma is glo tot Donderdag in Europa.

Sy grootste eis teen een publikasie is die eis van R20 miljoen teen die Engelse dagblad The Star.

Dié eis bestaan uit vier verskillende eise van R5 miljoen elk waarvan drie teen die spotprenttekenaar Zapiro is. Die vierde is vir 'n artikel met 'n foto van Zuma. Dié foto is gemanipuleer.

Die tweede grootste eis, van R10 miljoen, is teen die Sondagkoerant Rapport.

Dié eis bestaan uit twee eise van R5 miljoen elk waarvan een oor 'n lesersbrief is wat in die koerant se briewekolom geplaas is. Die eis teen Highveld Stereo is die derde grootste met dié teen The Sunday Times vierde met 'n eis van R6 miljoen.

Die koerante The Citizen, Sunday Sun, Sunday Independent en Sunday World word elk vir R5 miljoen gedagvaar.

Bykans al die gewraakte items waarin Zuma voel sy naam is geskend, is opiniestukke of spotprente.

Beeld het vroeër berig Zuma het adv. Jurg Prinsloo, 'n voormalige KP-LP, en mnr. Wycliffe Mothuloe, 'n Johannesburgse prokureur, aangestel om sy "kruisiging deur die media" te beveg en moontlike lastereise teen koerante te ondersoek.

'n Voetnota onderaan die verklarings wat gister deur Zuma uitgereik is, sê "lede van die naamskending-regspan sal nie in dié stadium met die media kontak hê nie"

Alle navrae is na 'n e-posadres verwys en is dan deur iemand in die "kantoor van mnr. Jacob Zuma" beantwoord.

Met erkenning aan Katrien Smit en Beeld.