Publication: Beeld Issued: Date: 2006-07-08 Reporter: Curt von Keyserlingk Reporter:

Wapentransaksie Bekyk ná Nuwe Inligting

 

Publication 

Beeld

Date 2006-07-08

Reporter

Curt von Keyserlingk

Web Link

www.news24.com

 

Daar is in Duitsland min twyfel dat omkoopgeld van sowat R130 miljoen betaal is vir kontrakte om oorlogskepe aan Suid-Afrika te lewer, maar dit is nog nie bekend aan wie nie.

Só sê 'n bron in Berlyn wat noue bande het met die Duitse polisie en amptenare van die inkomstediens, wat beweerde korrupsie ondersoek. Die korrupsie hou verband met die toekenning van die kontrak om oorlogskepe vir Suid-Afrika te bou.

"Dit kan óf Suid-Afrikaanse individue, maatskappye óf politieke groepe wees," sê hy.

Hy wys daarop dat Thyssen, die Duitse groep wat die kontrak van R4,3 miljard gewen het, lankal die kuns van geheime omkopery bemeester het met koeriers, gekodeerde bankrekenings en frontmaatskappye in die Karibiese See.

Duitse vervolgers het die ondersoek na Suid-Afrika se wapentuigkontrakte in 2001 begin nadat 'n brief ontvang is van 'n sakeman wat in Suid-Afrika bedrywig is en waarin beweer word dat kontant aan 'n Suid-Afrikaner in Switserland oorhandig is.

Luidens 'n artikel Maandag in Der Spiegel, 'n Duitse tydskrif, is in 'n ondersoek na omkopery deur Thyssen oor die verkoop van oorlogstenks aan Saoedi-Arabië, inligting gevind oor betalings in verband met Suid-Afrika se skeepskontrak. Dit is nóg 'n rede waarom die ondersoek van stapel gestuur is.

Dié ondersoek is later feitlik gestaak omdat die verdagte geldoordragte voor 15 Februarie 1999 plaasgevind het. Tot dié datum was die omkoop van buitelandse staatsamptenare nog wettig in Duitsland en ander ontwikkelde lande . Dit is as "nuttige onkoste" beskryf en was van belasting aftrekbaar. Plaaslike korrupsie is egter onwettig in dié lande.

In teenstelling hiermee is omkopery 'n strafbare oortreding in Suid-Afrika ingevolge Romeins-Hollandse reg asook wetgewing van 1992 ingevolge waarvan mnr. Schabir Shaik vervolg is.

Ondersoekers soek 'n verband tussen betalings voor 1999 en die besoek deur die destydse adjunk-president, mnr. Thabo Mbeki, in 1995 aan Duitsland, toe hy waarnemers verras het met die stelling dat 'n Duitse tenderaar op die kortlys vir die verskaffing van oorlogskepe is.

Net 'n maand vroeër het Krygkor aangekondig dat 'n Britse en 'n Spaanse tenderaar op die kortlys is en dat die Duitse tender nie aan die tendervereistes voldoen het nie.

Die ondersoek het 'n maand gelede weer aan die gang gekom toe Duitse belastingamptenare aanduidings van onregmatige geldoordragte by filiale van Thyssen gevind het. Saam met die inligting wat die polisie voorheen ingewin het, was dit genoeg om lasbriewe te laat uitreik en die kantore van filiale van Thyssen te laat deursoek. Die kantore van MAN Ferrostaal, wat 'n kontrak vir R4,2 miljard gekry het om duikbote vir Suid-Afrika te bou, is ook deursoek.

Thyssen ontken dat hy die wet oortree het, maar ontken nie noodwendig dat hy omkoopgeld betaal het voordat dit onwettig geword het nie. Die ondersoekers glo egter dat verdere paaiemente betaal kon gewees het ná die ondertekening van die kontrak op 3 Desember 1999.

Die geskiedenis het geleer dat omkoopgeld dikwels in twee of meer paaiemente betaal word; die eerste met die plasing van die tenderaar op die kortlys en 'n tweede met die toekenning van die kontrak.

Mnr. Mukoni Ratshitanga, 'n woordvoerder van president Thabo Mbeki, sê die feit dat die ondersoek hervat is net voor Mbeki se besoek aan Duitsland vir die seremonie waar Suid-Afrika die gasheer word van die volgende Wêreldbeker-sokkertoernooi, is dalk bedoel om Suid-Afrika in die verleentheid te stel.

Mnr. Dominic Scott van Transparency International (TI) in Londen sê korrupsie is volop in die wapentuigbedryf omdat nasionale veiligheid dikwels 'n goeie verskoning is om transaksies geheim te hou. Dit is ook van die grootste bedrywe in die wêreld.

Die meeste lede van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) het 'n konvensie onderteken om korrupsie van buitelandse amptenare in die tuisland van die verskaffer onwettig te maak. TI beweer egter net 'n derde van OECD-lande doen wesenlike stappe om dit te keer.

TI is besonder bekommerd oor die gebrekkige toepassing van die konvensie in Kanada, Italië, Japan, Nederland en Brittanje. Duitsland en Frankryk vaar effens beter.

Met erkenning aan Curt von Keyserlingk en Beeld.