Publication: Beeld Issued: Date: 2006-07-06 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Duitse Omkoopgeld-Ondersoek Bekyk Nét Firmas Daar

 

Publication 

Beeld

Date 2006-07-06

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com

 

Geen Suid-Afrikaners word betrek by Duitsland se ondersoek na omkoopgeld wat glo betaal is met die aankoop van vier korvette vir die vloot nie.

Mnr. Peter Lichtenberg, aanklaer van die Duitse vervolgingsgesag in Düsseldorf, het gister aan Beeld gesê sy ondersoek “raak nét Duitse burgers”.

Dít kom nadat die Duitse pers vroeër berig het omkoopgeld van ongeveer R137 miljoen word deur Lichtenberg en sy span ondersoek en dat klopjagte verlede maand op die kantore van onder meer die Duitse konglomeraat ThyssenKrupp uitgevoer is.

Die ondersoek behels die toekenning van ’n R6,87 miljard-kontrak aan die Duitse fregatkonsortium (GFC) vir die verskaffing van vier MEKO A200-korvette vir die vloot.

ThyssenKrupp is die hoofspeler in die GFC.

Lichtenberg wou gister “weens taktiese redes” nie meer besonderhede oor sy ondersoek verskaf nie “omdat dit ons ondersoek in gevaar kan stel”.

Pres. Thabo Mbeki stel vandag in Duitsland die logo van die 2010 Sokker-wêreldbekertoernooi bekend en vergader môre met me. Angela Merkel, Duitse kanselier.

Daar is vroeër gevrees dat die nuwe bewerings van korrupsie met die R30 miljard-wapentransaksie Mbeki se besoek aan Duitsland in ’n diplomatieke verleentheid kan verander.

Die Duitse weekblad Der Spiegel het Maandag berig ondersoekers wéét daar is “noodsaaklike uitgawes” (omkoopgeld) betaal met die korvette-kontrak, maar dat hulle nog besig is om uit te vind wie het dit goedgekeur.

Lichtenberg se antwoorde dui daarop dat die Duitse owerhede se ondersoek tans primêr fokus op die Duitse maatskappye wat by die beweerde betaling van omkoopgeld betrokke was en nie op die ontvangers daarvan in Suid-Afrika nie.

Die praktyk deur Duitse maatskappye in die buiteland om omkoopgeld teen belasting af te skryf, het eers in 1999 in Duitsland onwettig geword.

Der Spiegel het verwys na ’n brief wat Duitsland reeds in 2001 uit Suid-Afrika ontvang het met bewerings dat ’n hooggeplaaste Suid-Afrikaanse politikus in 1999 miljoene rande via Switserland ontvang het vir sy aandeel in die toekenning van die korvette-kontrak aan die GFC.

Lichtenberg wou niks hieroor sê nie.

Intussen het die SAKP óók gister ’n beroep op die nasionale vervolgingsgesag (NV) gedoen om sy Duitse eweknie te nader en te help met ’n “deeglike” ondersoek.

Die DA het vroeër die week dieselfde versoek aan adv. Vusi Pikoli, nasionale direkteur van openbare vervolging, gerig.

Luidens ’n verklaring deur mnr. Malesela Maleka, SAKP-woordvoerder, is die SAKP “uiters bekommerd en ontsteld” oor die bewerings van ongerymdhede met die tenderprosesse in die wapentransaksie en veral geskok oor die bewering dat omkoopgeld aan ’n senior politikus betaal is.

With acknowledgements to Adriaan Basson and Beeld.