Ondersoek My Maar, sê Mbeki |
Publication |
Die Burger |
Date | 2006-10-12 |
Reporter |
Jan-Jan Joubert |
Web Link |
KAAPSTAD. – Pres. Thabo Mbeki het gister sy kritici uitgedaag om hom te laat ondersoek as hulle meen hy het korrup opgetree tydens die regering se wapentransaksie.
Mbeki het in die parlement geantwoord nadat mnr. Bantu Holomisa, UDM-leier, hom gekonfronteer het oor bewerings in die Duitse media rakende sy betrokkenheid by die transaksie.
Holomisa het gevra of die parlement nie die bewerings behoort te ondersoek nie aangesien die president deur die parlement aangestel word.
Mbeki het gesê hoewel die parlement die reg het om dit te doen, sal dit geen doel dien nie en in ’n blote hengelekspedisie ontaard.
“Hulle sal egter nie kry waarvoor hulle probeer hengel nie, want dit waarvoor hulle hengel, bestaan nie.
“Gerugte en insinuasies sal jy altyd kry. Ek kan byvoorbeeld ’n gerug begin dat die agbare Holomisa ’n sak aartappels vasgelê het, maar die gerug sal mos nie waar wees nie.
“Vir voorstanders (van ’n ondersoek na sy gedrag) is my boodskap: Laat hulle kom! Daar is geen substansie aan die gerugte nie en ek dink in elk geval ek weet waar dit vandaan kom,” het Mbeki gesê.
Hy het Holomisa gedaag om die Duitsers self te vra of hulle met ’n ondersoek besig is, en gesê vissers van korrupte mense sal in hierdie geval hulle in ’n doodloopstraat bevind.
Holomisa se vraag het gevolg op ’n vraag van mnr. Mbulelo Goniwe, ANC-hoofsweep, oor die mate van korrupsie waarop voortslepende hofsake dui soos dié teen die ANC-onderleier, mnr. Jacob Zuma, en suspisies van bedrog met die wapentransaksie en reiskoeponbedrog deur LP’s.
Mbeki het, sonder om op die spesifieke voorbeelde te reageer, toegegee dat korrupsie ’n probleem is, maar volgehou dis nie diepgewortel nie. Hy het wel gemaan dat almal bedag moet wees dat dit nie wortelskiet nie.
Mbeki het kapitalisme en gulsigheid uitgesonder as die wortel van die kwaad, en gesê dit berus op die regering en op die gemeenskap se moraliteit om vergrype te verhoed, want die land is nie immuun teen gulsigheid nie.
Mbeki het waghonde soos die nasionale vervolgingsgesag, die ouditeur-generaal, die polisiediens en die openbare beskermer geloof vir hul stryd teen korrupsie.
Hy het terselfdertyd benadruk dat ’n mens aan niks skuldig is bloot omdat jy daarvan aangekla word nie. Mens moet dit volgens hom aan regters en landdroste oorlaat om oor skuld te besluit.
Mnr. Douglas Gibson, DA-hoofsweep, wou weet hoe die stryd teen korrupsie beslag kry in die ANC se aanvaarding van ’n groot skenking van die maatskappy Imvume en die reiskoeponskandaal waarin hy aanvoer verskeie LP’s skuldig is.
Mbeki het gesê albei kwessies word tans deur wetstoepassers ondersoek, en dat Gibson enige inligting wat hy het, aan die wetstoepassers moet verskaf sodat die reg sy beloop kan neem.
Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en Die Burger.