Publication: Die Burger Issued: Date: 2006-10-25 Reporter: JanJan Joubert

Regering Gee Jacob Zuma R10 Miljoen

 

Publication 

Die Burger

Date 2006-10-25

Reporter

Jan-Jan Joubert

Web Link

www.dieburger.co.za

 

KAAPSTAD. – Die presidensie het R10 miljoen begroot vir die regskoste van mnr. Jacob Zuma, geskorste adjunkpresident, in sy korrupsieverhoor.

Die aap is uit die mou gelaat in mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, se middeltermynbegroting wat gister by die parlement ingedien is.

Die geld kom uit besparing in die begroting van die presidensie, en word grootliks veroorsaak deur vakante poste waarvoor salarisse nie betaal hoef te word nie.

Dat die nuus manna uit die hemel gaan wees vir Zuma, is nie altemit nie.

In hofstukke voor die Natalse hooggeregshof, waar hy teregstaan op aanklagte van korrupsie, bekla Zuma sy armoede prontuit.

Sy regspan het in die hof aangevoer die koste van die huidige hofsaak vir Zuma is omtrent R3 miljoen.

Voorts het hy in ’n beëdigde verklaring wat hy in Augustus ingedien het, die mening gehuldig dat ’n sameswering teen hom plaasvind, en onder meer sy gesukkel om regshulp van die regering te kry, as ’n bewys aangevoer.

Zuma het ’n peperduur regspan en die gebrek aan hulp uit die presidensie is in die magstryd binne die ANC gebruik ter stawing van ’n teorie dat pres. Thabo Mbeki vir Zuma ondergrawe.

As die twee senior advokate (Kemp J Kemp en Jerome Brauns) R20 000 per dag en die junior advokaat (Thandanani Mbongwa) sowat R10 000 per dag betaal word, is die onkoste R50 000 per dag.

Hierby moet al Zuma se ander regskoste, soos vir sy prokureur, betaal word.

Al wat die presidensie tot dusver wou sê, was dat Zuma se aansoek om hulp oorweeg word.

Geen openbare aankondiging oor die R10 miljoen is tot nog toe gemaak nie.

Die Vriende van Jacob Zuma-trust het reeds by monde van sy administrateur, mnr. Barnabas Xulu, aangedui dat hy R12 miljoen vir die korrupsieverhoor wil insamel.

Tydens sy verkragtingsverhoor vroeër vanjaar in die Witwatersrandse hooggeregshof was daar sprake dat hy gesukkel het om sy regspan te betaal, maar dis ontken deur sy prokureur, mnr. Michael Hulley.

Zuma maak aanspraak op die regshulp omdat hy aangekla word van gedrag wat onder meer verband hou met die uitvoering van sy pligte terwyl hy nog die adjunkpresident was.

Gewoonlik word sulke hulp verleen onderhewig aan streng voorwaardes waarop die aangeklaagde en die staat ooreenkom, maar dit word dikwels nie bekend gemaak nie.

Daar is diegene in regskringe wat aanvoer ’n protokol bestaan waarvolgens Zuma die geld sal moet teruggee as hy die saak verloor, maar dis nie ’n vasgestelde reël nie.

Die presidensie, wat onder meer die kantore van Mbeki en adj.pres. Phumzile Mlambo-Ngcuka insluit, gaan sowat R238,8 miljoen bestee in hierdie boekjaar.

Dit is R17,1 miljoen minder as die R255,9 miljoen waarvoor daar in vanjaar se begroting voorsiening gemaak is.

Van die besparings is die sowat R3 miljoen wat as bydrae tot die Wêreldkongres vir gestremdes begroot is, want die kongres vind nie meer plaas nie, en die meeste van die res word weens vakante poste nie bestee nie.

Met erkenning aan Jan-Jan Joubert en Die Burger.