Publication: Die Burger Date: 2006-02-21 Reporter: Adriaan Basson Reporter: Reporter:

Jacob Zuma Kan Nie sy Regspan Betaal Nie

 

Publication 

Die Burger

Date

2006-02-21

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

 

Johannesburg – Mnr. Jacob Zuma se finansiële probleme is nou só erg dat sy regspan verlede week uitstel van sy verkragtingsverhoor moes vra omdat hulle nie betyds betaal is nie.

Die Burger het betroubaar verneem Zuma se onvermoë om sy prokureur en drie advokate te betaal, was een van die redes waarom sy verkragtingsverhoor verlede week op versoek van die verdediging met amper drie weke uitgestel is.

As Zuma teen 6 Maart, wanneer die verhoor hervat word, nie genoeg geld kon insamel om sy huidige regspan te betaal nie, sal hy moontlik om regshulp moet aansoek doen. Dit kan die verhoor met maande vertraag. Volgens Die Burger se bronne het die verdediging verlede week in gesprekke met die staat die betalingsprobleme geopper en hulle is genoeg tyd gegee om hul sake in orde te kry.

Maar mnr. Michael Hulley, ?Zuma se prokureur, het dit gister “kategories” ontken dat hy probleme het om geld van Zuma te kry. “Niks kan verder van die waarheid wees nie,” het hy gesê.

Die Burger se inligting dui egter daarop dat Zuma se finansiële probleme instrumenteel was in die uitstel van die verkragtingsverhoor. Buitendien gee die Vriende van Jacob Zuma-trust niks vir dié verhoor nie, maar samel nét geld in vir die korrupsiesaak wat later vanjaar in Durban begin.

Regskenners het gister gesê die verkragtingsverhoor kan Zuma maklik R1,5 miljoen uit die sak jaag. Twee senior advokate en ’n junior advokaat het saam met Hulley vir hom verskyn.

’n Ingeligte in die departement van justisie het gister, met verwysing na die Zuma-saak, gesê ’n tekort aan geld is een van die grootste en mees algemene redes waarom hofsake uitgestel word.

“Dit is gewoonlik waaroor dit gaan. Die ander redes waarom uitstel gevra word, is dikwels sekondêr.”

Mnr. Barnabas Xulu, administrateur van die Zuma-trust, het gister gesê hul mikpunt is om R12 miljoen vir die korrupsieverhoor in te samel. Hulle betaal niks vir die verkragtingsaak nie en was net by die hof om Zuma “moreel” te ondersteun.

Volgens Xulu stuur Hulley sy rekenings vir sy werk met die korrupsiesaak na hulle om te betaal.

“Soos wat ons dit verstaan is die verkragting sy (Zuma se) saak. Hy is verantwoordelik om daarvoor te betaal.”

Zuma se geldelike verknorsing het in die Schabir Shaik-verhoor aan die lig gekom.

’n Forensiese ouditeur het getuig sy maandelikse skuld het sy salaris oorskry.

Met sy afdanking as adjunkpresident het Zuma sy jaarlikse vergoeding van R870 000 verloor.

Die ANC het daarna aangekondig dat hy aan ’n pakket vir Zuma werk, maar dit is nog nie bekend wat die regerende party sy onderleier betaal nie.

With acknowledgement to Die Burger and Adriaan Basson.