Publication: Weekend Argus Issued: Date: 2006-11-12 Reporter: Carien du Plessis Reporter:

Yengeni Rek sy Naweek

 

Publication 

Weekend Argus

Date

2006-11-12

Reporter

Carien du Plessis

Web Link

www.capeargus.co.za

 

Kaapstad. – Tony Yengeni, gewese ANC-hoofsweep het gister meer as ’n uur laat by die Malmesbury-gevangenis aangekom nadat hy op naweekparool vrygelaat is.

Sy laatkommery is ’n verbreking van die gedragskode vir gevangenes. Hy moes drie-uur reeds by die gevangenis aangemeld het.

Die Burger het Yengeni omstreeks vieruur op sy selfoon opgespoor. Meer as ’n kwartier later het hy, begelei deur twee voertuie, in sy viertrek-voertuig by die hekke van die Malmesbury-gevangenis ingejaag om joernaliste te vermy, berig Mlandeli Puzi.

Yengeni het in die telefoongesprek geweier om enige vrae te beantwoord, maar dit het geklink of hy in ’n motor gery het met die bekende struggle-lied, “Umshini wam” (“Bring my masjiengeweer”) op die agtergrond.

Hy het opgewek en ontspanne geklink.

Sy laatkommery het egter mnr. Ngconde Balfour, die minister van korrektiewe dienste, omgekrap, het ’n woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), mnr. Manelisi Wolela, gesê.

Yengeni het glo vroeër gebel en gesê hy het probleme met sy voertuig, en dit sal in ag geneem word in die ondersoek na sy laatkommery.

Die DKD het gister berigte ontken dat Yengeni van nou af elke naweek op parool sal wees.

Hierdie tipe verlof “word slegs twee keer gedurende die laaste ses maande van ’n gevangene se aanhouding gegun, en ten minste drie maande moet verloop tussen die twee naweke,” het Wolela gesê.

Yengeni was aan streng voorwaardes onderworpe dié naweek, soos dat hy nie mag drink nie en teen agtuur elke aand tuis moes wees.

Die Burger het verneem dat sy korrektiewe toesighouer geen oortredings in hierdie verband aangemeld het nie.

Yengeni se ma, mev. Olive Yengeni, het gister vanuit haar huis in Guguletu gesê sy en haar man, Lesley, het by haar seun se huis in Milnerton gaan inloer voordat hy terug tronk toe is. Dit gaan goed met hom.

Mnr. Mcebisi Skwatsha, ANC-sekretaris in die Wes-Kaap, het gesê hy het Vrydagaand by Yengeni se huis gaan inloer om te groet nadat hy toevallig op die radio van Yengeni se naweekparool gehoor het, maar hy het ontken dat daar ’n partytjie was.

Yengeni is op naweekparool ingevolge die Wet op Korrektiewe Dienste, waarvolgens ’n gevangene sodoende voorberei kan word op vrylating.

Wolela het gesê altesame 80 tot 90 gevangenes word maandeliks op naweekparool vrygelaat.

Hy het gesê Yengeni, wat tot vier jaar tronkstraf gevonnis is vir bedrog, sal waarskynlik op 15 Januarie vrygelaat word, maar Die Burger het vertroulik verneem dat hy reeds op 24 Desember huis toe kan gaan.

Sy gevangenisstraf is verminder ná ’n spesiale amnestie verlede jaar.

Mnr. Miles Bhudu, president van South ­African Prisoners for Human Rights, het egter in ’n verklaring gesê Yengeni het nie naweekparool nodig om hom te help met herintegrasie in die gemeenskap nie, omdat hy skaars meer as twee maande in die tronk is.

Opposisiepartye het ook heftig gereageer.

Mnr. James Selfe, DA-LP, het gesê Yengeni se naweekparool is weer eens ’n teken dat hy spesiale behandeling in die tronk geniet.

With acknowledgement to Carien du Plessis and Die Burger.