Publication: Beeld Issued: Date: 2006-09-27 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Shaik, Zuma Moes Saam in Hof

 

Publication 

Beeld

Date 2006-09-27

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com/Beeld

 

Bloemfontein. - 'n Appèl-hofregter het gister die staat gestriem vir hul besluit om mnr. Jacob Zuma nie saam met Schabir Shaik aan te kla nie.

Regter Piet Streicher het vir adv. Billy Downer, SC, hoof van die staat se regspan, gevra of hy verwag die Zuma-verhoorregter moet 'n besluit neem wat teenstrydig is met die appèlhof se uitspraak in Shaik se appèlsaak.

Shaik, Zuma se voormalige finansiële adviseur, se appèlle teen sy drie skuldigbevindings en vonnisse het gister ten einde geloop. 'n Volbank appèlhofregters behou uitspraak voor.

Streicher se uitspraak sal as motivering vir die voormalige adjunkpresident se regspan dien om 'n aansoek te bring vir die permanente terugtrek van aanklagte sodra die saak teen Zuma weer op die Pietermaritzburgse hooggeregshof se hofrol geplaas is. Regter Herbert Msimang het dié saak verlede week van die rol geskrap.

Streicher het sy opmerking gemaak tydens Downer se betoog waarom regter Hilary Squires reg was om die berugte gekodeerde Franse faks as bewysstuk te aanvaar.

Mnr. Alain Thétard, voormalige hoof van die wapenfirma Thint, het dié faks aan sy base in Frankryk geskryf en bevestig dat Zuma in kodevorm ingestem het om R500 000-omkoopgeld te ontvang.

Streicher: "Jy argumenteer dat die faks so duidelik soos daglig is. Dat Zuma, Shaik en die Franse ingestem het tot omkopery."

Downer: "Ja, u edele."

Streicher: "Maar jy het nie die Franse of Zuma (saam met Shaik) aangekla nie. Nou is hier 'n appèlsaak terwyl 'n ander hof oor die ander twee (Zuma en Thint) moet besluit.

"Verwag jy van 'n hooggeregshof om 'n besluit te neem wat teenstrydig is met 'n appèlhofuitspraak?" wou Streicher weet.

"As hulle al drie saam aangekla is, sou hierdie hof geweet het wat hulle weergawes (oor die omkoopooreenkoms) was en in 'n baie beter posisie gewees het."

Nóg regters het adv. Bulelani Ngcuka, voormalige direkteur van openbare vervolging, se 2003-besluit om Zuma nie aan te kla nie, gekritiseer.

Regter Craig Howie, president van die appèlhof, het gesê hierdie besluit het gevolge vir die Shaik-appèl, terwyl regter Mahomed Navsa wou weet waarom die staat nie minstens vir Zuma saam met Shaik aangekla het nie as dit onmoontlik was om Thétard, wat na Frankryk gevlug het, in Suid-Afrika te kry.

"Mnr. Downer, verduidelik asseblief vir my hoe jy 'n prima facie-saak teen die omkoper (Shaik) het, maar nie teen die omgekoopte (Zuma) nie," wou Navsa weet, waarop Downer gesê het hy kan nie Ngcuka se besluit verder neem nie.

Downer het voorts gesê hy sou graag die samesweerders saam wou aankla.

Downer en adv. Gerda Ferreira, wat destyds die Skerpioene se wapenondersoek gelei het, het by Ngcuka aanbeveel om Zuma en Shaik saam te vervolg.

Ngcuka het ná nóg raad van senior advokate anders besluit en nadat hy aangekondig het daar is 'n prima facie-saak teen Zuma, het dié hom by die openbare beskermer verkla weens inbreuk op sy menseregte.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.