Publication: Beeld Issued: Date: 2006-07-21 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Shaik Betaal Zuma Glo tot Julie 2005

 

Publication 

Beeld

Date 2006-07-21

Reporter

Adriaan Basson

 

Mnr. Jacob Zuma se "algemeen korrupte verhouding" met Schabir Shaik het glo tot minstens Julie verlede jaar voortgeduur.

Shaik se betalings aan die afgedankte adjunkpresident het na bewering nie eens gestop nadat hy (Shaik) skuldig bevind is aan korrupsie en bedrog nie.

Dít blyk uit 'n beëdigde verklaring van mnr. Johan du Plooy, senior spesiale ondersoeker van die Skerpioene en ondersoekbeampte in die Zuma-saak, wat eergister by die Durbanse hooggeregshof ingedien is.

Du Plooy se verklaring vorm deel van die staat se aansoek dat die korrupsieverhoor van Zuma en die wapenfirma Thint tot volgende jaar uitgestel word.

Die verhoor is veronderstel om op 31 Julie in die Pietermaritzburgse hooggeregshof te begin, maar die staat voer aan dat vertragings met appèlaansoeke hulle verhoed om nóú met die saak voort te gaan.

Luidens Du Plooy se verklaring is dit vir die staat duidelik dat die misdrywe waarvan Zuma aangekla word, voortgeduur het tot "minstens Julie 2005".

In dié stadium verskyn daar twee aanklagtes van korrupsie op die Zuma-klagstaat: sy "algemeen korrupte verhouding" met Shaik deur sy posisie te misbruik ten gunste van Shaik se private belange, en die aanvaarding van R500 000 se omkoopgeld van Thint om dié maatskappy te beskerm teen 'n wapenondersoek en hul belange in Suid-Afrika te bevorder.

Shaik het in Februarie verlede jaar, tydens kruisondervraging, onthul dat hy steeds vir Zuma betaal. Nóú blyk dit die staat het bewyse hiervan gevind.

In sy verhoor het Shaik getuig daar was 'n leningsooreenkoms tussen hom en Zuma en dat Zuma reeds groot bedrae aan hom terugbetaal het.

Die oorspronklike ooreenkoms, wat volgens Shaik deur Zuma in die parlement geliasseer is, kon egter nie gevind word nie.

Tot in dáárdie stadium was daar ook geen bewyse van terugbetalings aan Shaik nie.

Die Zuma-verhoor begin oor tien dae, maar daar is nog nie sekerheid oor wie die regter gaan wees nie.

In KwaZulu-Natalse regskringe word daar gegis dat regter Herbert Msimang waarskynlik die man gaan wees wat moet besluit of Zuma en Thint korrup was.

Die regspanne van Zuma en Thint het reeds aangedui dat hulle die staat se aansoek vir 'n uitstel vurig sal teenstaan en selfs sal oorweeg om te vra dat die saak van die hofrol geskrap word.

Luidens Du Plooy se verklaring het aansoeke teen die Skerpioene se klopjagte verlede jaar op Zuma en sy vertrouelinge se eiendomme gelei tot vertragings.

Die Skerpioene het onlangs eers Thint-dokumente ontvang nadat dié firma 'n aansoek in die Pretoriase hooggeregshof verloor het en volgens Du Plooy onderhandel die staat tans met Zuma en twee van sy prokureurs om toegang te kry tot inligting wat hulle (die Skerpioene) moes teruggee.

Volgens Du Plooy het die staat sy forensiese ouditeurs op 23 Mei opdrag gegee om hul forensiese-verslag vir die Zuma-verhoor te voltooi en sal dit "so gou as moontlik ná 31 Julie 2006" beskikbaar wees.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.