Publication: Rapport
Issued:
Date: 2006-08-06
Reporter:
Reporter:
Mnr.
Jacob Zuma het die politieke geveg die afgelope week na pres. Thabo Mbeki toe
gevat.
As daar iemand is wat in die hof kan verduidelik oor korrupsie in
die staat se multimiljoenrand-wapentransaksie, is dit Mbeki, het Zuma aangevoer
in hofstukke in sy korrupsieverhoor in die hooggeregshof in Pietermaritzburg.
Zuma het die vloer gevee met Mbeki se opspraakwekkende uitlating in die
ANC se nasionale uitvoerende komitee tien dae gelede dat daar geen verskille
bestaan "tussen die president en die adjunkpresident van die ANC nie".
In hofstukke het hy baie naby daaraan gekom om Mbeki by die naam te noem
toe hy onder eed verklaar het daar is 'n sameswering op hoë vlak wat sy ambisie
probeer dwarsboom om president van Suid-Afrika te word.
Intussen het dit
ook aan die lig gekom die staat sal waarskynlik betaal vir Zuma se peperduur verdediging in die korrupsiesaak. Me Moipone
Mosidi van die staatsprokureur se kantoor het Vrydag gesê haar kantoor was nog nooit onseker daaroor of hulle vir Zuma se verdediging
sal betaal nie. Hulle wag net vir Zuma om die name van die regsverteenwoordigers
van sy keuse te verstrek.
"Die bal is in sy baan. Hy
weet die staat het ingestem om vir sy verdediging te betaal. Hy moet net
sê wie hy as sy advokate wil hê," het Mosidi gesê.
Zuma werp nou alles
in die stryd om sy onskuld te bewys, insluitend om 'n vinger van beskuldiging na
Mbeki te wys.
Mbeki het 'n sleutelrol in die wapentransaksie gespeel en
as daar enige ondersoek daarna is, moet Mbeki die fokus daarvan wees, sê hy in
'n beëdigde verklaring.
Zuma het ook onthul dat 'n amptelike brief wat
hy vyf jaar gelede aan die parlement geskryf het om die Heath-eenheid uit te
sluit van 'n ondersoek na die wapentransaksie, woordeliks deur Mbeki opgestel
is.
Zuma het dié brief geskryf as hoof van regeringsake in die
parlement. Hy het die brief onderteken nadat Mbeki hom opdrag gegee het om dit
te doen.
Zuma het ook aangevoer die staat se intelligensiedienste word
teen hom ingespan - 'n verdere bedekte aanval op Mbeki, wat glo 'n plan van die
Nasionale Intelligensie-agentskap goedgekeur het om "die politieke situasie in
die land weens die Zuma-kwessie" te evalueer.
Zuma se aantyging dat daar
saamgesweer word om hom van die presidentskap te beroof, is in skrille kontras met vroeëre uitlatings dat hy nie verdere
politieke ambisies het nie.
Zuma en Mbeki sal vandag van aangesig
tot aangesig met mekaar kom op 'n vergadering van die ANC se vyf top-
ampsbekleërs.
Mnr. Michael Hulley, Zuma se prokureur, wou gister niks sê
oor die moontlikheid dat Zuma se verdediging Mbeki as 'n getuie sal roep nie.
"Ek sê nie ons sal of sal nie die president as 'n getuie roep nie. Die
kwessie is nog nie gefinaliseer nie weens die gebrek aan gereedheid wat
veroorsaak is deur die staat se versuim om inligting aan ons te gee," het Hulley
gesê.
Met erkenning aan Rapport.