Publication: Die Burger Issued: Date: 2006-11-09 Reporter: Dries Liebenberg

Shaik se Straf Begin

 

Publication 

Die Burger

Date 2006-11-09

Reporter

Dries Liebenberg

Web Link

www.dieburger.co.za

 

Durban – Dit was ’n ander Schabir Shaik wat gister sy laaste treë in vryheid gegee het teen die trappe van die hooggeregshof hier uit.

Die gewoonlik selfversekerde miljoenêr-sakeman wat dag ná dag vir maande aaneen in snyerspakke by dieselfde hof vir sy korrupsieverhoor opgedaag het, was gister aangetrek vir die tronk.

Die snyerspakke het plek gemaak vir ’n eenvoudige wit T-hemp, swart tekkies en blou denim waaroor ’n effense magie van dié 48-jarige man gebult het.

Die Schabir Shaik wat stiptelik om 08:30 by die hof opgedaag het, was ook nie die man wat altyd ’n kwinkslag gehad het vir die media sedert die Skerpioene se ondersoek aan die lig gekom het nie. Gister se Schabir Shaik was ’n man wat merendeels afgekyk het grond toe. Hy het sy vrou, Zuleikha, se hand vasgehou en het ook sy arm om haar skouer gesit.

“Dis duidelik ’n moeilike tyd vir my familie,” het Shaik aan joernaliste gesê terwyl hy gewag het om hom oor te gee.

Sy uurglas van vryheid het Maandag begin leegloop toe die appèlhof saamgestem het met die skuldigbevinding en vonnis van 15 jaar wat regter Hilary Squires middel verlede jaar oor Shaik uitgespreek het.

Shaik is skuldig bevind aan ’n jare lange korrupte verhouding met oud-adj.pres. Jacob Zuma én dat hy ’n ooreenkoms met die Franse verdedigingsmaatskappy Thales beding het om Zuma om te koop in ruil vir die politikus se beskerming.

Shaik se broers en vrou was strak terwyl die voormalige grootbaas van die Nkobi-groep aan die media gesê het: “Ek wens my familie net die beste toe, veral my vrou en kind.

“Aan al die verslaggewers wat ek opdraand gegee het, vra ek om verskoning. Daar is vrede in my hart en ek loop in die pad van my Herder.”

Sy familie en skoonfamilie, wat hulle sedert Woensdag van die media afgesluit het, het gisteroggend luidens ’n verklaring gevra om nou met rus gelaat te word.

Van die dosyne nuuskieriges en ondersteuners wat tydens die ses maande lange verhoor soggens en smiddae by die hof saamgedrom het, was gister net enkeles buite die Westville-gevangenis waar ’n polisievangwa om 09:16 met flitsende ligte aangejaag gekom het.

Hoë staalhekke is flink agter die vangwa toegetrek toe dit met die eensame Shaik agterin deur die tronk se hoofhek gery het.

Sy broers, vrou en prokureur het kort daarna opgedaag en het in die daaropvolgende twee uur afskeid geneem terwyl Shaik in die tronkbevolking opgeneem is.

’n DKD-woordvoerder het ontken dat Shaik binne drie uur ná sy aankoms by die oorbevolkte Westville-gevangenis oorgeplaas is na ’n ander tronk aan die KwaZulu-Natalse Noordkus.

Drie ingeligtes het teenoor Sapa beweer dat Shaik gistermiddag oorgeplaas is en dat hy die middag eenuur aangekom het by die Qalakabusha-gevangenis, ’n nuwe tronk wat in 2000 buite Empangeni in gebruik geneem is.

Mnr. Luphumpzo Kebeni, nasionale DKD-woordvoerder, het egter gesê: “Wat my betref, is Shaik nie oorgeplaas nie. Ek weet nie waar hierdie stories vandaan kom nie.”

Die polisiebeampte wat Shaik die oggend van die Durbanse hooggeregshof na Westville-gevangenis geneem het, het toe hy die gevangenis­terrein om 10:00 verlaat het, al teenoor joernaliste opgemerk: “Hy (Shaik) gaan nie lank hier wees nie.”

Oomblikke nadat ’n DKD-bakkie om 12:00 by die tronkterrein uitgery het, het bewaarders beduie: “Daar gaan hy!”

Mnr. Derrick Mdluli, KwaZulu-Natalse voorsitter van die regtegroep Sapohr, het gister gesê in Westville se Medium B-afdeling is daar tussen 40 en 50 gevangenes in die gemeenskaplike selle wat vir 18 ontwerp is. Selfs die enkelselle het twee of drie gevangenes in.

Sapohr se nasionale leier, mnr. Golden Miles Bhudu, het Shaik luidens ’n verklaring aangemoedig om die versoeking van voorkeurbehandeling te weerstaan en sy vonnis as ’n uitdaging te sien en soos ’n man te vat.

Bhudu se raad aan Shaik was dat hy sy sake-kontakte gebruik om geld vir gevangenes se opleiding, rehabilitasie en herintegrasie te bewillig. “Dan sal hy ’n held vir sy medegevangenes wees en sal niemand hom leed aandoen nie.”

With acknowledgement to Dries Liebenberg and Die Burger.