Publication: Die Burger Issued: Date: 2006-10-05 Reporter: Adriaan Basson

SA Uitvoerders Geneig tot Omkopery Toon Studie

 

Publication 

Die Burger

Date 2006-10-05

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.dieburger.co.za

 

Suid-Afrikaanse uitvoermaatskappye het ’n hoë geneigdheid om omkoopgeld aan buitelanders te betaal.

Dít is die bevinding van Transparency International (TI) se omkopersindeks vir 2006 wat gister vrygestel is.

Dié studie fokus spesifiek op die private sektor in die wêreld se 30 grootste uitvoer-ekonomieë en hul geneigdheid om individue in die buiteland om te koop.

Luidens die studie, wat laas in 2002 gedoen is en Suid-Afrika tóé uitgesluit het, is daar internasionaal rede tot kommer en is korrupsie onder die wêreld se uitvoerreuse steeds algemeen.

Suid-Afrika lê 24ste op die indeks met ’n gemiddelde punt van 5.61. ’n Punt van 10 dui op ’n persepsie dat daar geen korrupsie in ’n land is nie, terwyl 0 beteken korrupsie floreer.

TI se studie, wat onder 11 000 mense in 125 lande wêreldwyd gedoen is, het bevind Switserse maatskappye se geneigdheid om omkoopgeld te betaal, is die laagste (7.81) en Indië s’n die hoogste (4.62).

Die vier ander lande wat die swakste gevaar het is China, Rusland, Turkye en Taiwan. “Maatskappye wat omkoopgeld betaal, ondermyn die goeie pogings van regerings in ontwikkelende lande om goeie regering te bevorder en dryf só die bose kringloop van armoede,” sê me. Huguette Labelle, voorsitter van TI.

Volgens haar het respondente uit arm Afrika-lande veral Franse- en Italiaanse maatskappye uitgewys as die ergste boosdoeners.

Die Franse wapenreus Thales is onlangs saam met mnr. Jacob Zuma, voormalige adjunkpresident, van korrupsie aangekla wat verband hou met die regering se omstrede wapentransaksie. Die saak is verlede maand van die hofrol geskrap.

TI beveel aan dat die organisasie vir ekonomiese samewerking (OECD) se teenkorrupsie-konvensie daadwerklik toegepas moet word.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.