Publication: Beeld Issued: Date: 2006-10-06 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

SA Vlootman Na Firma Wat Tender Kry

 

Publication 

Beeld

Date 2006-10-06

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com/Beeld

 

Die man wat hoof was van die SA vloot se omstrede korvetprogram werk nou vir een van die maatskappye aan wie die multimiljoenrand-kontrak vir die bou van dié skepe toegeken is.

Skoutadm. Jonny Kamerman, voormalige projekoffisier van die vloot se Projek Sitron vir die aankoop van vier nuwe korvette, het Maandag as vise-president van ThyssenKrupp Marine Systems se vlootverkope-afdeling begin werk. “Skoutadm. Kamerman het op 1 Oktober by ThyssenKrupp begin werk,” het mnr. Stephen Laufer, dié firma se plaaslike woordvoerder, aan Beeld gesê.

Kamerman is by ThyssenKrupp se kantore in Hamburg, Duitsland, gebaseer.

ThyssenKrupp was onlangs in die nuus toe die Duitse vervolgingsgesag in Düsseldorf bevestig het hy ondersoek omkoopgeld met die toekenning van die korvette-kontrak aan die Duitse fregatkonsortium (GFC).

Klopjagte is onder meer op ThyssenKrupp se kantore uitgevoer.

Die GFC, waarvan ThyssenKrupp die hoofspeler is, het die R6,87 miljard-tender gekry om die SA vloot van vier MEKO A200-korvette te voorsien.

Die Duitse weekblad Der Spiegel het in Julie onthul dat die kantore van ThyssenKrupp, Blohm + Voss, HDW en MAN Ferrostaal deurgesoek en dat beslag op bokse vol dokumente gelê is.

Omkoopgeld van R137 miljoen aan Suid-Afrikaners is glo ter sprake.

“Die ondersoekers wéét dat daar met die verkoop van die korvette (aan Suid-Afrika) omkoopgeld deur Duitse maatskappye in die buiteland afgeskryf is teen belastingvereistes, totdat dié praktyk (in 1999) in Duitsland onwettig geword het. Hulle is egter nog nie seker wie die betalings goedgekeur het nie,” het Der Spiegel destyds berig.

Mnr. Peter Lichtenberg, aanklaer van Düsseldorf, het aan Beeld bevestig dat “net Duitse burgers” by hul ondersoek betrek word.

Kamerman het tydens die wapenverhore in 2001 erg koppe gestamp met dr. Richard Young, direkteur van CCII, wat militêre rekenaarstelsels verskaf.

Young het in 2002 met sy lastereis teen Kamerman geslaag nadat dié hom daarvan beskuldig het dat hy staatsveiligheid in gedrang gebring het deur geheime dokumente aan die media te gee. Kamerman het die eis nie teengestaan nie en regter Willie Hartzenberg van die Pretoriase hooggeregshof het skadevergoeding van R250 000 aan Young toegestaan. Kamerman het intussen aansoek gedoen dat Hartzenberg se beslissing hersien word.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.