‘Vlek die Wapen-Katnes Oop’ |
Publication | Volksblad |
Date |
2006-08-04 |
Reporter |
Gert Coetzee |
Web Link |
Die Zuma-verhoor is glo een klein uitloper van talle vrot vertakkinge van die omstrede Suid-Afrikaanse wapentransaksie van R30 miljard (in 1998, wat nou sowat R54 miljard sou beloop). Gaan die regering slaag met sy wegwensery van agterdog oor die ingewikkelde transaksie?
Luidens beweringe is die R500 000 per jaar waarvoor Zuma in die beskuldigebank is, kleingeld vergeleke met ander omkoopgeld van miljoene rande.
G’n wonder nie soveel vrae bestaan. Gaan die transaksie sommer sonder antwoorde “weggaan”?
Ja, sê die regering. Of, soos dr. Essop Pahad, minister in die presidensie, op mnr. Eddie Trent, DA-LP, se knaende vrae sê, is die saak “behoorlik ondersoek en afgehandel en gaan die regering nie weer daaroor praat nie”.
Nee, sê pleiters vir “die oopvlekking van die katnes” met wie Volksblad gepraat het.
Me. Patricia de Lille, OD-leier, sê doodswygery en volstruispolitiek werk nie. “Die regering bluf homself as hy dink Suid-Afrikaners glo die persepsie wat hy probeer saai dat die saak deeglik ondersoek is.
“In 1999 is my eerste aantygings, wat in die volledige De Lille-dossier vervat is, afgelag. Nou het dit al by die suksesvolle vervolgings van mnre. Tony Yengeni en Schabir Shaik en die Zuma-verhoor gedraai. “Die een ding lei tot die volgende. Ek sal aanhou vrae vra, al word die boodskapper geskiet.”
Soos andere, meen sy die sondebokke (“fall guys”) gaan nie alleen sink nie. “As hulle eers begin sing...”
Trent dryf die DA se “portefeulje” oor die wapentransaksie. “As alles pluis is, hoekom glo so baie mense én die pers nie die regering nie?
“Twee stories oor een ding wys iewers lieg iemand.
“Kyk na pres. Thabo Mbeki se (nie)reaksie op my vraag oor sy vergadering met Thomson-CSF (nou Thales) in Frankryk op 17 Desember 1998.
Sy weergawe en Thales s’n verskil,” sê hy.
Trent meen inligting wat stuk-stuk uitkom, wys mense weet goed en het bewyse. “Die Zuma-verdedigingspan het seker inligting wat in die hof gaan uitkom?”
Trent sê tou opgooi bestaan nie. “Dis Suid-Afrikaners se reg om vrae te vra en antwoorde te kry.
“Die Grondwet, ons land se beleidsfondament, waarborg deursigtigheid. Hoekom is geheime ontmoetings nodig? Hoekom sê pres. Mbeki nie net ja of nee oor sy ontmoeting met Thomson-CSF nie?”
Mnr. Hennie van Vuuren, hoof van die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) se program oor korrupsie en staatsbestuur, meen voortdurende nuwe aantygings wys die wapensage gaan nie net verdwyn nie. Nog aantygings sal volg.
Volgens Van Vuuren dui die Zuma-hofsaak op ’n mate van politieke bereidwilligheid om beweerde korrupsie te ondersoek en laat vervolg. “Tog heers kommer dat ander aantygings nie met dieselfde inspanning ondersoek word nie.”
Die waarheid sál uitkom, maar nie sommer sonder meer nie.
Dr. Richard Young, hoof van die Kaapse maatskappy C²I², sê ’n “behoorlike, onbelemmerde onafhanklike kommissie van ondersoek” is hiervoor nodig.
Young voer al jare ’n hofstryd op eie koste teen die departement van verdediging oor beweerde ongerymdhede met die laat aanvaarding van Thomson-CSF se wapenbod bo dié van sy eie maatskappy se veel laer bod.
Hy het al die Wet op Toegang tot Inligting teen mnr. Mosiuoa Lekota, minister van verdediging, ingespan om die departement te dwing om dokumente aan hom te oorhandig.
Verdediging se appèl teen Young se aansoek het in Februarie vanjaar misluk, maar tot ’n verdere appèl gelei. Verdediging het nog niks oorhandig nie.
Young het gister gesê die appèlhof het verdediging tot 30 Junie kans gegee vir die indiening van stawende hofstukke. C²I² moet nou repliserende verklarings indien.
“Verdediging se regspan het verlede week onverwags gevra om die saak uiteindelik buite die hof te skik. “In die ontmoeting met hul regslui, was ons tegemoetkomend. ’n Beginselbesluit is geneem dat hulle binne ’n dag of twee die dokumente aan ons sou oorhandig.”
’n Hofdatum in die Pretoriase hooggeregshof is vir 16 April volgende jaar vasgestel. Verdediging het van die hof voorwaardelik kans gekry om stukke ter insae teen 31 Julie (afgelope Maandag) te doen.
“Armscor het gevra vir uitstel tot 30 September en ons het ingestem om dié uitstel van twee maande aan alle partye toe te staan.”
Young meen die regering gaan rakende sy saak twee keuses hê.
“Hy kan dit in die hof beveg én dan gaan die waarheid uitkom. Ons sal Mbeki beslis dagvaar om te vra hoekom hy die Franse in die geheim ontmoet en verseker het dat hulle die kontrak sal kry, twee jaar voordat dit onderteken is.
“Of hy kan uit die hof skik, wat altyd vir ’n verweerder ’n opsie is.”
Hoe lank gaan Young nog vasbyt? “
’n Hele paar jaar,” sê hy.
Young se hofstryd is een dié sake waarop ander oopvlekkers hul hoop op ontrafeling vestig.
Daar is ook mnr. Terry Crawford-Browne se hofstryd om dokumente oor die wapenpakket van mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, te kry. Die Duitse vervolgingsgesag ondersoek bewerings van omkoopgeld van sowat R137?miljoen met die Duitse deel van die wapentransaksie waarin ’n kontrak van R6,87?miljard aan die Duitse fregatkonsortuim vir vier nuwe korvette aan die Suid-Afrikaanse vloot toegeken het.
Die Zuma-verhoor is die groot sneller vir verdere verwikkelinge. Zuma het in die hof vir Mbeki betrek by ’n politieke komplot teen hom om te keer dat hy president word.
Zuma is “verras” daaroor dat Mbeki – “... as ’n ideale en natuurlike persoon om te getuig oor die afwesigheid van korrupsie in die toekenningsproses ...” – nie ’n staatsgetuie is nie. Volgens hom is die berugte Zuma-ondertekende brief aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) wat die uitsluiting van die Heath-eenheid uit die wapenondersoek bevestig het, “woord vir woord” deur Mbeki se kantoor geskryf en aan hom gestuur met die “instruksie” om dit te onderteken.
Die oopvlekkers hoop die saak gaan draai volgende by mnr. Chippy Shaikh, wat die regering se aankopehoof was, terwyl sy broer, ene Schabir, Thompson-CSF se bemiddelaar was!
Hulle beskou Chippy as die “domino” wat al die ander stukke gaan omklink.
Te veel los drade en onbeantwoorde vrae bestaan oor die transaksie vir dié beperkte ruimte.
Soos met Amerika se Watergate-skandaal en Suid-Afrika se eie Inligtingskandaal, is oopvlekkery nie maklik nie. Maar as dinge eers uitrafel ...
Dit gaan nie net oor omkoopgeld en bedrieëery nie, maar oor die geloofwaardigheid van baie mense en die ANC-regering, veral sy sogenaamde teenkorrupsie-veldtog, en die onafhanklikheid van die regbank en vervolgingsgesag, wat veronderstelde hoekstene van demokrasie is. Van Vuuren meen buiten geldverlies is die wapensage uiters nadelig vir die kapasiteit en openbare gesig van die instellings – nog in hul kinderskoene – wat veronderstel is om demokrasie te bevorder.
“Vir die hele Suid-Afrikaanse samelewing en sy pogings om ware demokratiese instellings te vestig, is dit noodsaaklik dat alle beskuldigings tot die bodem ondersoek word,” sê hy.
Met erkenning aan Gert Coetzee en Volksblad.