Publication: Beeld Issued: Date: 2006-09-26 Reporter: Adriaan Basson Reporter:

Shaik-Appèl Kry Wind van Voor

 

Publication 

Beeld

Date 2006-09-26

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com/Beeld

 

Bloemfontein. - Schabir Shaik is vanoggend 'n bekommerde man.

'n Volbank van die appèlhof het sy regsverteenwoordigers gister opdraand gegee in hul pogings om die hof daarvan te oortuig dat Shaik verkeerdelik deur regter Hilary Squires skuldig bevind en te swaar gestraf is.

Shaik appelleer teen drie skuldigbevindings - twee op aanklagte van korrupsie en een bedrogklag.

Oor die eerste korrupsieklag, dat Shaik en mnr. Jacob Zuma 'n "algemeen korrupte verhouding" gehad het, het adv. Jeremy Gauntlett, SC, namens Shaik, gisteroggend gesê dit is 'n "ongewone" aanklag.

"Maar ongewoon op 'n heeltemal verkeerde wyse."

Volgens Gauntlett is dit nie 'n eenvoudige korrupsiesaak waar iemand vir 'n verkeersbeampte omkoopgeld in 'n bruin koevert gee nie, maar het Shaik en Zuma 'n "baie spesiale familie- en vriendskapsverhouding".

Almal by Shaik se Nkobi-groep het geweet hy ken vir Zuma en die betalings aan die voormalige adjunkpresident was nie 'n geheim nie.

"Hulle het 'n baie intieme verhouding en niks het verander nie," het Gauntlett gesê en geargumenteer Shaik se bedoeling met die betalings aan Zuma was legitiem.

Squires het bevind dat dit Shaik se bedoeling was om Zuma se invloed te "koop" met die doel om sy (Shaik se) private sakebelange te bevorder.

Oor Zuma se pligte, as LUR vir finansies en toerisme in KwaZulu-Natal, toe ANC-onderleier en eindelik adjunkpresident, wou regter Piet Streicher by Gauntlett weet: "Is dit nie ook sy (Zuma se) plig om nie geld te aanvaar vir die uitvoering van sy amptelike pligte nie?"

Gauntlett het lank nagedink en bevestigend geantwoord, waarop Streicher gesê het die enigste vraag wat dan vir die hof oorbly is of dit Shaik se bedoeling was om Zuma se amptelike posisie te gebruik om homself te verryk.

Regter Mahomed Navsa het Gauntlett daarop gewys dat hy nie 'n "kliniese onderskeid" kan tref tussen Zuma se pligte nie. "Dit manifesteer uiteindelik in een persoon."

Die enigste ligpunt vir Shaik was toe Streicher gistermiddag by adv. Billy Downer, SC, hoof van die staat se regspan, wou weet watter bewyse die staat het dat Zuma ingestem het om omkoopgeld van die Franse wapenfirma Thint te aanvaar.

Met die tweede korrupsieklag het Squires bevind Shaik het omkoopgeld van R500 000 per jaar vir Zuma gereël.
Die omkoopooreenkoms is in Maart 2000 op 'n vergadering in Durban tussen Shaik, Zuma en mnr. Alain Thétard van Thint beklink.

Die staat se hoof-bewysstuk vir dié aanklag - die berugte gekodeerde Franse faks - praat van 'n kode waarmee Zuma tot korrupsie ingestem het.

Hoe weet die staat Zuma het geweet wat dié kode beteken as daar net in kodetaal op die Durban-vergadering gepraat is, wou Streicher weet.

Downer het gesê daar kan nie in afsondering na die vergadering gekyk word nie en dat dit saam met die faks deel van 'n skema vorm "wat soos korrupsie lyk". Die saak duur voort.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.