Publication: Beeld Issued: Date: 2006-07-09 Reporter: Erika Gibson Reporter:

‘Weermag Wys Hy Wil Wittes se Kennis Behou’

 

Publication 

Beeld

Date 2006-07-09

Reporter

Erika Gibson

Web Link

www.news24.com

 

Die jongste lys aanstellings en bevorderings van weermaggeneraals “bewys dat die weermag erns het om ’n balans tussen rasseverteenwoordiging en die vermoë om die werk gedoen te kry, te handhaaf”.

Dít is hoe militêre kenners die afgelope week gereageer het nadat dit geblyk het 5 uit die 12 bevorderings is wit senior offisiere.

Uit ’n totaal van 30 nuwe aanstellings, is 16 wit.

Volgens genl.maj. Len le Roux (afg.) van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) is die aanstellings en bevorderings veral verblydend in die lig van die weermag se toenemende taak in vredesoperasies in Afrika ­ ’n taak wat toenemende vaardighede gaan verg.

“Niemand sal die nodigheid van transformasie in die weermag se topgeledere ontken nie. Dit bly ’n prioriteit, maar terselfdertyd is transformasie iets wat tyd neem.

“Daarom is dit des te belangriker om nie intussen na te laat om bepaalde offisiere se spesialiskundighede te beloon nie.”

Volgens Le Roux is dit verder beduidend dat die lugmag, wat vroeër juis weens die spesialis-aard van sy werk stadiger verteenwoordigend op topvlak geraak het, nou bygekom het.

Genl.maj. Mandla Mangethe sal van 1 Januarie volgende jaar die tweede-in-bevel van die lugmag word wanneer genl.maj. Lappies Labuschagne aftree.

Drie van die jongste generale aanstellings is vroue, waaronder brig.genl. Louise Rossouw, wat van begin vandeesmaand hoof van staf by die leër se logistieke steunformasie is.

Volgens Le Roux is dit “bemoedigend” dat twee van die mees kundige wit top-offisiere uit die vorige bedeling, brig.genl. Des Barker en genl.maj. Les Rudman, nou as sulks beloon word.

Barker, ’n kundige op die terrein van toetsvliegveiligheid, word direkteur van magvoorbereiding in die lugmag.

Rudman, voorheen bevelvoerende generaal van die Spesiale Magte, word hoofdirekteur van die Leër se korporatiewe dienste.

’n Aanstelling wat deur sowel Le Roux as mnr. Helmoed-Römer Heitman van Jane’s Defence Weekly verwelkom is, is dié van genl.maj. Derrick Mgwebi, tans bevelvoerder van die Verenigde Nasies se mag in Burundi.

Volgens Heitman is Mgwebi ’n nederige soldaat wat in sy huidige pos bewys het hy hoef nie ’n tree terug te staan vir enige internasionale eweknieë nie. Daar was trouens sprake dat die VN hard probeer het om Mgwebi vir ander sendings te behou, eerder as wat hy na die weermag sou terugkeer.

Twee van die min vlieëniers uit Umkhonto we Sizwe, kolonels Zakes Msimang en Tsoko Khumalo, word eersdaags ook generaals.

Msimang, ’n helikoptervlieënier en tans bevelvoerder van die Bloemspruit-lugmagbasis, word direkteur van helikopterstelsels in die lugmag. Khumalo, tans bevelvoerder van die Algemene Steunbasis Langebaanweg, neem as direkteur van lugvervoer en maritieme stelsels oor.

Die enigste nuwe vloot-admiraal is skout-adml. (junior graad) George Basson wat direkteur van maritieme oorlogvoering word.

With acknowledgements to Erika Gibson en Beeld.