Publication: Die Burger Issued: Date: 2007-03-30 Reporter: Adriaan Basson

Zuma : Nuwe Aanklagte

 

Publication 

Die Burger

Date

2007-03-30

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.dieburger.com

 

KAAPSTAD. – Die Skerpioene ondersoek nou ook aanklagte van geldverduistering en geldwassery teen mnr. Jacob Zuma, ANC-onderleier.

Die ondersoek teen Zuma en die wapenfirma Thint is vandeesweek verder uitgebrei toe die Pretoriase hooggeregshof die Skerpioene toestemming gegee het om Brittanje se wetstoepassingsowerhede by sy ondersoek te betrek.

Volgens ingeligtes blyk dit nou ’n uitgemaakte saak te wees dat Zuma en Thint wéér deur die nasionale vervolgingsgesag aangekla gaan word, moontlik eers volgende jaar.

Die korrupsiesaak teen Zuma en Thint is verlede jaar in die Pietermaritzburgse hooggeregshof van die rol geskrap.

Regter Ben du Plessis het Donderdag ’n bevel uitgereik wat die Skerpioene magtig om die Zuma-ondersoek na Brittanje uit te brei.

Dié aansoek is ondersteun deur ’n beë­digde verklaring van adv. Leonard McCarthy, hoof van die Skerpioene. Die verklaring maak nuwe bewerings oor hoe Zuma se omkoopgeld glo deur die Britse bankrekening van ’n prokureursfirma daar “gewas” is.

Mnr. Jurgen Kögl, besturende direkteur van onder meer African Renaissance Holdings en familievriend van pres. Thabo Mbeki, het voorheen erken dat hy geld aan Zuma “geleen” het.

Maar volgens McCarthy was Kögl se verduidelikings oor die aard van die betalings “onvolledig en onbevredigend”.

Nóú vra die Skerpioene die Britse owerhede om die bankbestuurder van Barclays in Londen te ondervra asook prokureurs van die Britse regsfirma Berwin Leighton Paisner (BLP).

In ’n forensiese ondersoek deur die ouditeursfirma KPMG is bevind dat R1 191 390,12 deur BLP se Britse Barclays-rekening aan Kögl se Cay Nominees (in Suid-Afrika) betaal is – glo ten bate van Zuma.

En volgens McCarthy is daar aanduidings dat dit ’n manier was om Thint se omkoopgeld aan Zuma te verdoesel.

Die Skerpioene benodig Brittanje se samewerking om die ware bron van die Kögl-betalings vas te stel, sę die Skerpioene-baas.

Thint is die Suid-Afrikaanse filiaal van die Franse wapenreus Thales.

In die Schabir Shaik-verhoor is bevind Shaik het gereël dat Zuma R500 000 per jaar van Thales ontvang in ruil vir sy beskerming van dié firma teen ’n wapenondersoek en vir die bevordering van hul belange in Suid-Afrika.

Daar is in Augustus 2005 berig dat die Skerpioene moontlik hul laaste skakel (Kögl) gevind het in die geldspoor van omkoopgeld wat volgens regter Hilary Squires aan Zuma betaal is.

Dít was nadat die Skerpioene toegeslaan het op Kögl se kantoor en huis.

In sy verklaring verwys McCarthy na ’n interne Thales-dokument waarin mnr. Alain Thétard, voormalige hoof van Thint, na Kögl verwys as Thales se agent in Suid-Afrika.

Kögl ontken dat hy ooit vir Thales gewerk het.

Luidens dié dokument het me. Barbara Masekela, Suid-Afrika se voormalige ambassadeur in Frankryk, bevestig dat Kögl “gemagtig is om sake namens Thomson-CSF (Thales se vorige naam) te hanteer”.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Die Burger.