Publication: Beeld Issued: Date: 2007-04-24 Reporter: Adriaan Basson

Duitsland ‘Vra Bystand’ met Wapenondersoek

 

Publication 

Beeld

Date

2007-04-24

Reporter

Adriaan Basson

Web Link

www.news24.com/Beeld/

 

Duitsland het Suid-Afrika glo reeds gevra om wedersydse regsbystand met dié land se ondersoek na Suid-Afrika se omstrede R30 miljard-wapentransaksie. Mnr. Eddie Trent, DA-LP en woordvoerder oor die wapentransaksie, het gister gesê hy het op goeie gesag verneem dat die Suid-Afrikaanse owerhede só ’n versoek van Duitsland ontvang het.

Die Duitse ondersoek hou verband met die beweerde betaling van miljoene rande se omkoopgeld deur die Duitse fregat-konsortium (GFC) aan Suid-Afrikaners om die vloot se R6,78 miljard korvette-kontrak te bekom. Suid-Afrika het vier korvette van die GFC gekoop.

Sentraal tot die ondersoek is die bewering dat mnr. Chippy Shaik, voormalige hoof van die weermag se wapenaankope en broer van die veroordeelde Schabir, omkoopgeld van $3 miljoen (ongeveer R21 miljoen) ontvang het.

Die Duitse versoek volg kort nadat me. Brigitte Mabandla, minister van justisie, besluit het dat die Suid-Afrikaanse polisie Brittanje mag bystaan in hul bedrog-ondersoek na die wapentransaksie. Suid-Afrika gaan waarskynlik deur die Duitsers en Britte gevra word om plaaslike banke te dagvaar vir bankstate van verdagtes en beëdigde verklarings van moontlike getuies af te neem.

Die DA vra ook dat die nasionale vervolgingsgesag (NV) bewerings van korrupsie teen Chippy Shaik – wat in die Duitse tydskrif Der Spiegel gepubliseer is – ondersoek en die publiek op hoogte hou daarvan. “Die DA ondersteun die minister van justisie, wat vroeër vanjaar gevra het vir volle samewerking tussen die Suid-Afrikaanse en internasionale vervolgingsgesagte, ten volle en vertrou dat die bewerings teen Shaik spoedig ondersoek sal word,” sê Trent.

Met erkenning aan Adriaan Basson en Beeld.