Blair is Geveins, sê Thabo by Beraad |
Publication | Beeld |
Date |
2007-01-28 |
Reporter |
Adriaan Basson |
Web Link |
www.news24.com/Beeld |
Pres. Thabo Mbeki het die naweek uitgevaar teen Brittanje se ondersoek na
Suid-Afrika se wapentransaksie en premier Tony Blair van Brittanje van
skynheiligheid beskuldig.
Mbeki het sy gehoor by die Wêreld-Ekonomiese
Forum-beraad in Davos, Switserland, verbaas toe hy gesê het ondersoeke na
korrupsie fokus te veel op Afrika-lande en te min op die Westerse maatskappye
wat die omkoopgeld betaal.
Brittanje se kantoor vir ernstige bedrog (SFO)
ondersoek tans bewerings van korrupsie met die aankoop van 24
Hawk-opleidingsvliegtuie van die Britse wapenreus BAE Systems. Dié transaksie is
deel van Suid-Afrika se omstrede R30 miljard-wapenpakket.
Luidens die
Britse dagblad The Times het Mbeki vir Blair van dubbele standaarde beskuldig
oor hy (Blair) die SFO se ondersoek na die berugte al-Jamamah-transaksie tussen
BAE en Saoedi-Arabië in Desember gestaak het. “Die Suid-Afrikaanse president het
gesê die besluit (om die SA transaksie te ondersoek) het sy land se beeld
geskaad en gewaarsku dat hy die saak persoonlik met Blair sal bespreek,” berig
The Times.
Beeld het verlede week berig die SFO wag al sewe maande vir ’n
Suid-Afrikaanse wetstoepassingsagentskap om hulle by te staan met die ondersoek.
Eergister is berig die departement van justisie is glo verantwoordelik
vir dié vertraging, omdat adv. Menzi Simelane, direkteur-generaal van justisie,
nog nie die polisie gemagtig het om die SFO te help nie. Mbeki het aan The Times
in Davos gesê Suid-Afrika sal sy samewerking met die ondersoek gee; selfs al
verskil hy sterk oor die gronde daarvoor.
Maar mnr. Zolile Nqayi,
woordvoerder van die minister van justisie, het gister aan Beeld gesê die
SFO-aansoek “word nog oorweeg”. Hy ontken dat die versoek reeds sewe maande by
justisie lê en sê hulle het dit eers tussen die einde van verlede jaar en begin
2007 ontvang. Sodra ’n besluit geneem is, sal dit bekend gemaak
word.
Luidens The Times het Mbeki, met verwysing na Blair se besluit oor
Saoedi-Arabië, gesê dit is vir hom ’n raaisel waarom “strategiese belange” by
BAE sou geld vir een land, maar nie ’n ander nie. “Ek is verward. Dis nog nie
verduidelik nie. Desondanks gebruik ons dit nie om te sê ons gaan nie met hulle
saamwerk nie, maar dalk verduidelik hulle eendag aan ons hoe ’n onderskeid soos
dié moontlik is.”
With acknowledgements to Adriaan Basson and Beeld.